Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 1:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hierdie boek bevat Moses se woorde aan die hele volk Israel toe hulle in die woestyn oos van die Jordaanrivier was. Hulle was in die woestynvlakte, naby Suf, tussen Paran aan die een kant en Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab aan die ander kant.

2. Dit vat gewoonlik net elf dae om met die pad langs die Seïrberg verby van die Sinaiberg af tot by Kades-Barnea te kom.

3. 40 jaar nadat die Israeliete Sinaiberg verlaat het, op ’n dag in die middel van die winter, het Moses alles vir hulle gesê wat die Here die Israeliete beveel het om te doen.

4. Dit was nadat hy koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon regeer het, en ook koning Og van Basan wat in Astarot en Edreï regeer het, verslaan het.

5. Moses het die volk Israel toegespreek terwyl hulle in Moab, oos van die Jordaanrivier, was. Hy het begin om die gebooie soos volg uit te lê:

6. “Toe ons by Sinaiberg was, het die Here ons God vir ons gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly.

7. “‘Dit is tyd om die kamp af te slaan en aan te beweeg. Trek na die bergwêreld van die Amoriete en na al die naburige streke toe – die Jordaanvallei, die bergwêreld, die laeveld, die Negevgebied en die kusvlakte. Gaan na die land van die Kanaäniete en die Libanon tot by die groot Eufraatrivier.

8. Hierdie gebied gee Ek vir julle. Trek in die land in en neem dit in besit. Die Here het gesweer dat Hy hierdie land aan julle voorouers Abraham, Isak en Jakob en aan hulle nageslag sal gee.’”

9. “Ek het toe al vir julle gesê: ‘Julle is ’n te groot las om alleen te dra.

10. Die Here julle God het julle so baie soos die sterre gemaak.

11. Mag die Here, die God van julle voorouers, julle selfs duisend keer meer laat word. Mag Hy julle seën soos wat Hy beloof het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 1