Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 7:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. In die eerste regeringsjaar van Belsasar as koning van Babel, het Daniël ’n droom gehad. Hy het in sy slaap gesigte gesien. Wat hy in die droom gesien het, het hy neergeskryf. Dit is wat hy gesien het:

2. In my droom daardie nag het ek, Daniël, ’n sterk storm op die groot see gesien met winde wat uit al vier rigtings waai.

3. Vier groot diere wat van mekaar verskil het, het uit die see gekom.

4. Die eerste dier was soos ’n leeu met arendsvlerke. Terwyl ek besig was om daarna te kyk, is sy vlerke afgeskeur. Sy voorlyf is van die aarde af opgelig en hy het op sy agterpote gaan staan soos ’n mens, en ’n mens se verstand is aan hom gegee.

5. Ek het ’n tweede dier gesien wat soos ’n beer lyk. Dit het regop gestaan en het drie ribbebene tussen sy tande in sy bek gehad. Daar is vir hom gesê: “Staan op en verslind baie vleis.”

6. Daarna sien ek nog ’n ander dier wat lyk soos ’n luiperd. Hy het op sy rug vier vlerke gehad soos ’n voël se vlerke. Hy het ook vier koppe gehad en het die mag ontvang om te regeer.

7. In my visioen daardie nag het ek ook ’n vierde dier gesien. Hy was vreesaanjaend, geweldig groot en buitengewoon sterk. Hy het groot ystertande gehad waarmee hy alles verslind het. Wat daarna oor was, het hy onder sy pote vertrap. Hy was heeltemal anders as die ander diere voor hom en het tien horings gehad.

8. “Terwyl ek nog besig was om na die horings te kyk, het daar ’n klein horinkie tussen hulle uitgekom. Drie van die horings wat daar was, is uitgepluk om daarvoor plek te maak. Hierdie horinkie het oë soos dié van ’n mens gehad en ’n mond wat baie aanmatigende dinge gesê het.

9. Terwyl ek staan en kyk, is daar trone neergesit. Hy wat ewig lewe,het daarop gaan sit. Sy klere was wit soos sneeu. Die hare op sy kop was soos suiwer wol. Sy troon het vuurvlamme gehad en wiele van brandende vuur.

Lees volledige hoofstuk Daniël 7