Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 6:17-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Die koning het toe beveel dat Daniël gevange geneem en in die leeuhok gegooi moet word. Hy het vir Daniël gesê: “Mag jou God wat jy altyd dien jou red.”

18. Hulle het ’n klip gebring en dit voor die ingang van die hok gesit. Die koning het dit met sy seëlring en die seël van sy vooraanstaande amptenare verseël sodat niemand daarmee kon peuter en Daniël uithaal nie.

19. Die koning is toe terug na sy paleis toe. Hy het daardie aand niks geëet nie. Daar is nie soos gewoonlik vir hom musiek gemaak nie. Hy kon ook nie daardie nag slaap nie.

20. Met dagbreek die volgende oggend het hy haastig na die leeus se hok toe gegaan.

21. Naby die hok het hy angstig na Daniël geroep en gevra: “Daniël, dienaar van die lewende God, kon jou God wat jy altyd aanbid, jou van die leeus red?”

22. Daniël het die koning geantwoord: “Mag die koning lank lewe!

23. My God het sy boodskapper gestuur. Hy het die leeus se bekke toegesluit sodat hulle niks aan my kon doen nie, want ek het niks verkeerds teen Hom gedoen nie. Ook teen die koning het ek geen oortreding begaan nie.”

24. Die koning was baie bly hieroor. Hy het gesê dat Daniël uit die hok gehaal moes word. Daniël is daar uitgehaal en daar was geen skrapie aan hom nie, want hy het op sy God vertrou.

25. Die koning het toe beveel dat daardie mans wat Daniël wou verontreg, saam met hulle kinders en vroue in die leeuhok gegooi moes word. Hulle het skaars grond gevat in die hok of die leeus het hulle verskeur.

26. Koning Darius het toe aan al die volke, nasies en tale oor die hele aarde ’n brief geskryf: “Hartlike groete vir julle almal!

27. Ek vaardig ’n bevel uit dat in al die gebiede van my ryk daar agting en respek moet wees vir die God van Daniël.Hy is die God wat lewe en vir altyd bestaan.Sy koninkryk ken geen einde nie en sy regering het geen grense nie.

28. Hy bevry en Hy red. Hy rig tekens op en doen wonders bo in die hemel en onder op die aarde. Hy het Daniël gered uit die mag van die leeus.”

29. Hierna het Daniël voorspoedig in Darius se ryk gelewe en ook in dié van Kores die Pers.

Lees volledige hoofstuk Daniël 6