Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 6:15-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Toe die koning dit hoor, was hy baie kwaad vir homself. Hy het gedink oor hoe hy Daniël kon red. Hy het die res van die dag probeer om Daniël te bevry.

16. Die mans is weer saam na die koning toe. Hulle sê vir hom: “O Koning, u weet tog dat ’n wet wat die koning geteken het volgens die reël van Mede en Perse vasstaan. Dit kan nie verander word nie.”

17. Die koning het toe beveel dat Daniël gevange geneem en in die leeuhok gegooi moet word. Hy het vir Daniël gesê: “Mag jou God wat jy altyd dien jou red.”

18. Hulle het ’n klip gebring en dit voor die ingang van die hok gesit. Die koning het dit met sy seëlring en die seël van sy vooraanstaande amptenare verseël sodat niemand daarmee kon peuter en Daniël uithaal nie.

19. Die koning is toe terug na sy paleis toe. Hy het daardie aand niks geëet nie. Daar is nie soos gewoonlik vir hom musiek gemaak nie. Hy kon ook nie daardie nag slaap nie.

20. Met dagbreek die volgende oggend het hy haastig na die leeus se hok toe gegaan.

21. Naby die hok het hy angstig na Daniël geroep en gevra: “Daniël, dienaar van die lewende God, kon jou God wat jy altyd aanbid, jou van die leeus red?”

22. Daniël het die koning geantwoord: “Mag die koning lank lewe!

23. My God het sy boodskapper gestuur. Hy het die leeus se bekke toegesluit sodat hulle niks aan my kon doen nie, want ek het niks verkeerds teen Hom gedoen nie. Ook teen die koning het ek geen oortreding begaan nie.”

24. Die koning was baie bly hieroor. Hy het gesê dat Daniël uit die hok gehaal moes word. Daniël is daar uitgehaal en daar was geen skrapie aan hom nie, want hy het op sy God vertrou.

25. Die koning het toe beveel dat daardie mans wat Daniël wou verontreg, saam met hulle kinders en vroue in die leeuhok gegooi moes word. Hulle het skaars grond gevat in die hok of die leeus het hulle verskeur.

Lees volledige hoofstuk Daniël 6