Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 4:29-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

29. Twaalf maande later het hy op die dak van sy koninklike paleis in Babel rondgeloop.

30. Hy spog toe by homself: ‘Ek het hierdie grote Babel met my eie mag as my koninklike tuiste opgebou om ’n teken te wees van my grootheid!’

31. “Terwyl die koning nog besig was om so te praat, het ’n stem van bo uit die lug gekom: ‘Koning Nebukadnesar, hierdie boodskap is vir jou: Jou koningskap word van jou af weggevat!

32. Jy word van die mense af weggejaag. Jy sal tussen die diere van die veld gaan bly. Jy sal gras eet soos ’n bees. Daar sal vir jou sewe tydperke verbygaan totdat jy erken dat God die Allerhoogste regeer oor die koninkryke van die mense en dit vir enigeen gee soos Hy wil.’

33. “Die woorde was skaars koud toe dit so gebeur het. Nebukadnesar is van die mense af weggejaag. Hy het gras begin eet soos ’n bees. Die dou het uit die lug op hom geval. Sy hare het so lank geword soos ’n arend se vere en sy naels het soos ’n voël se kloue geword.

34. “Ná hierdie tyd verby was, het ek, Nebukadnesar, opgekyk boontoe. Ek het weer tot my sinne gekom. Ek het voor God die Allerhoogste gekniel en Hom wat vir altyd lewe, geloof en vereer, want Hy regeer vir altyd en aan sy heerskappy kom daar nooit ’n einde nie.

35. “Almal wat op aarde woon, is niks in vergelyking met Hom nie. Hy maak soos Hy wil met die inwoners van die hemel en dié wat op aarde woon.Niemand kan Hom teëgaan nie.En niemand kan vir Hom sê:‘Wat doen jy?’ nie.

36. “Toe ek tot my sinne gekom het, is my koningskap, my aansien en my eer ook aan my teruggegee. My raadgewers en amptenare het my kom opsoek en ek is weer in my koningsamp herstel. My aansien het selfs nog meer geword as vantevore.

37. “As gevolg hiervan loof en verheerlik en vereer ek, Nekukadnesar, die Koning van die hemel.“Alles wat Hy doen, is waar en reg.Almal wat hoogmoedig is,verneder Hy.”

Lees volledige hoofstuk Daniël 4