Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 11:35-45 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

35. “Sommige van hulle wat onderrig gee, sal struikel en vervolg word sodat hulle gelouter, gesuiwer en gereinig kan word vir die eindtyd. Die tyd waarop besluit is, het nog voorgelê.

36. “Die koning sal doen net wat hy wil. Hy sal homself aanstel en dink dat hy belangriker is as al die gode. Selfs teen die God van die gode sal hy verwaande dinge kwytraak. Hy sal sukses behaal totdat die tydstip van God se verontwaardiging tot ’n einde kom soos reeds besluit is.

37. Hy sal hom nie steur aan die gode van sy voorouers of die gunsteling god van die vroue nie. Hy ontsien geen god nie, want hy ag homself bo al die gode.

38. Hy sal eerder die god wat hom beskerm, dien. Dit is ’n god wat sy voorouers nie geken het nie. Dié god sal hy vereer met goud en silwer, met edelstene en duur geskenke.

39. Met die hulp van hierdie vreemde god sal hy versterkte vestings aanval. Hy sal eer gee aan dié wat hulle aan hierdie god onderwerp. Hy sal hulle aanstel om oor baie mense te regeer en hulle beloon deur aan hulle grond te gee.

40. “Aan die einde van die tyd sal die koning van die suide hom aanval. Die koning van die noorde sal teen hom uitstorm met oorlogwaens, met ruitery en ’n baie groot vloot. Hy sal by lande kom en soos ’n golf oor hulle spoel.

41. Hy sal deur die mooi land van Israel trek en baie sal doodgemaak word. Edom, Moab en die grootste deel van Ammon sal egter van hom gespaar bly.

42. Hy sal baie lande verower. Egipte sal ook nie vrykom nie.

43. Hy sal beheer kry oor die voorrade van goud en silwer, en oor al die skatte van Egipte. Die Libiërs en die Etiopiërs sal aan hom onderdanig wees.

44. “’n Berig uit die ooste en die noorde sal hom dan ontstel. Hy sal woedend uittrek om baie te gaan vernietig en dood te maak.

45. Hy sal sy tent opslaan tussen die Middellandse See en die heilige berg. Daar sal hy aan sy einde kom. Niemand sal hom kan help nie.”

Lees volledige hoofstuk Daniël 11