Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 10:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. In die derde jaar van Kores se bewind in Persië het Daniël, wie se ander naam Beltsasar was, nog ’n visioen gehad. Dit het gegaan oor dinge wat nog beslis sou gebeur. Dit sou ’n tyd van oorlog wees. Daniël het verstaan wat hierdie visioen beteken.

2. Tydens die visioen was ek, Daniël, al drie weke lank besig om te treur.

3. Ek het nie in daardie drie weke enige geurige kos of vleis geëet nie. Ek het nie eers aan wyn geraak nie. Ek het ook nie van enige geurige olie gebruik gemaak nie.

4. Dit was op 23 April. Ek het op die oewer van die groot Tigrisrivier gestaan.

5. Ek het opgekyk en ’n man gesien met klere van fyn linne en ’n goue gordel om sy lyf.

6. Sy lyf het soos edelstene gelyk. Sy gesig was soos weerligstrale, sy oë soos vlammende fakkels. Sy arms en sy voete was soos koper wat blink gevryf is. Die stem waarmee hy gepraat het, het geklink soos die geruis van ’n skare mense.

7. Dit was net ek, Daniël, wat hierdie gesig gesien het. Die mans wat saam met my was, het dit glad nie gesien nie. Hulle het skielik baie bang geword en weggehardloop om te gaan wegkruip.

8. Ek het toe alleen agtergebly en na hierdie visioen staan en kyk. Daar het nie ’n greintjie krag in my oorgebly nie. Ek het doodsbleek geword en daar het geen krag in my oorgebly nie.

9. Ek het die man hoor praat. Toe ek hoor hy praat, het ek flou neergeval en met my gesig op die grond gelê.

10. ’n Hand het my aangeraak en my op my hande en knieë gehelp. Ek het staan en bewe.

Lees volledige hoofstuk Daniël 10