Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 7:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die oppermagtige Here het my ’n visioen laat sien. Ek het gesien dat Hy besig was om ’n swerm sprinkane gereed te maak. Dit was net toe die graan weer begin opkom het nadat die koning se deel afgeoes was.

2. Ek het gesien hoe die sprinkane alles wat groen was, afgevreet het. Toe het ek gesê: “Oppermagtige Here, vergewe ons tog, asseblief! Israel is maar ’n klein volkie en sal nie oorleef as U nie vergewe nie.”

3. Die Here het hulle jammer gekry en gesê: “Ek sal dit nie laat gebeur nie.”

4. Die oppermagtige Here het my weer ’n visioen laat sien. Ek het gesien dat Hy sy volk wou straf deur ’n groot vuur te stuur. Die vuur het eers die diep onderaardse water laat opdroog en was besig om die hele land te verteer.

5. Toe het ek gesê: “Oppermagtige Here, moet dit asseblief nie doen nie. Israel is maar ’n klein volkie en sal dit nie oorleef nie.”

6. Die oppermagtige Here het weer vir hulle jammer gevoel en gesê: “Ek sal dit ook nie laat gebeur nie.”

7. Ek het nog ’n visioen gesien. Die Here het by ’n loodregte muur gestaan met ’n skietlood in sy hand.

8. Die Here vra toe vir my: “Wat sien jy, Amos?” Ek het geantwoord: “’n Skietlood.” Toe sê die Here: “Ek gaan my volk Israel met ’n skietlood toets. Ek gaan hulle verkeerde optredenie meer oorsien nie.

9. Ek gaan die aanbiddingsplekke wat Isak opgerig het en die heiligdomme van Israel vernietig.Ek gaan oorlog laat uitbreek teen die koningshuis van Jerobeam.”

10. Amasia was ’n priester in Bet-El. Toe hy hoor wat Amos sê, het hy vir Jerobeam, die koning van Israel, ’n boodskap gestuur: “Amos is besig om ’n komplot teen Israel te smee. Al hierdie dinge wat hy sê, sal die land net skade aandoen.”

11. Amos het gesê: “Jerobeam sal binnekort gewelddadig sterf en Israel sal in ballingskap gaan. Hulle sal uit hulle land weggevoer word.”

Lees volledige hoofstuk Amos 7