Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 6:14-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Dawid het met volle oorgawe voor die Here gedans terwyl hy slegs ’n linneskouerkleed aangehad het.

15. So het Dawid en die hele Israel die ark van die Here met groot gejuig en geklank van die ramshoring in die stad ingebring.

16. Terwyl die ark van die Here die Dawidstad binnegekom het, het Mikal, die dogter van Saul, van bo uit haar venster toegekyk. Toe sy koning Dawid sien spring en dans voor die Here het sy hom in haar hart verafsku.

17. Hulle het die ark van die Here neergesit in ’n tent wat Dawid spesiaal daarvoor laat opslaan het. Dawid het brandoffers en maaltydoffers vir die Here geoffer.

18. Toe hy daarmee klaar was, het Dawid die volk geseën in die Naam van die Here, die Almagtige.

19. Daarna het hy aan die hele volk, vir elke man en vrou in Israel, ’n ringbrood, ’n dadelkoek en ’n bietjie rosyntjies gegee. Almal het toe huis toe gegaan.

20. Dawid het by sy huis gekom om sy gesin te seën. Maar Mikal, Saul se dogter, kom hom tegemoet en sê sarkasties: “Hoe eerbiedwaardig het die koning van Israel vandag opgetree! Hy het homself voor die slavinne ontbloot en soos ’n skaamtelose mens gedra!”

21. Dawid het teruggekap: “Ja, ek het gedans voor die Here wat my bo jou pa en sy familie verkies het! Hy het my aangewys as heerser oor Israel, die volk van die Here.

22. En ek sal myself selfs nog meer verneder: Ek sal myself volgens jou siening nog geringer ag en steeds geëer word deur die slavinne van wie jy praat!”

23. Mikal het haar lewe lank kinderloos gebly.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 6