Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 6:10-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Dawid was toe nie meer bereid om die ark van die Here in die Dawidstad te laat inkom nie. Hy het dit eerder na die huis van Obed-Edom, die Gittiet geneem.

11. Die ark van die Here het drie maande in die huis van Obed-Edom gebly. Die Here het hom en sy hele huis geseën.

12. Dis aan koning Dawid meegedeel: “Die Here het die huis van Obed-Edom en alles wat hy besit, geseën as gevolg van die ark van God.” Dawid het toe daarheen gegaan en die ark met groot feestelikheid na die Dawidstad toe geneem.

13. Telkens nadat die draers ses tree gegee het, het hulle gaan stilstaan sodat Dawid ’n bul en ’n vetgemaakte kalf kon offer.

14. Dawid het met volle oorgawe voor die Here gedans terwyl hy slegs ’n linneskouerkleed aangehad het.

15. So het Dawid en die hele Israel die ark van die Here met groot gejuig en geklank van die ramshoring in die stad ingebring.

16. Terwyl die ark van die Here die Dawidstad binnegekom het, het Mikal, die dogter van Saul, van bo uit haar venster toegekyk. Toe sy koning Dawid sien spring en dans voor die Here het sy hom in haar hart verafsku.

17. Hulle het die ark van die Here neergesit in ’n tent wat Dawid spesiaal daarvoor laat opslaan het. Dawid het brandoffers en maaltydoffers vir die Here geoffer.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 6