Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 3:23-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Toe Joab hoor dat Abner die koning besoek het en dat hy ongedeerd daar weg is,

24. haas hy hom na die koning toe. “Wat het u nou gedoen?” vra hy. “Wat het u besiel om Abner te laat wegkom?

25. U weet tog dat Abner seun van Ner, net gekom het om u te mislei en op u doen en late te spioeneer!”

26. Joab is weg van Dawid af en het boodskappers agter Abner aangestuur. Hulle het hom by die put van Sira ingehaal en hom saam met hulle teruggebring. Maar Dawid het niks hiervan geweet nie.

27. Toe Abner terug is by Hebron, neem Joab hom eenkant na die poort toe asof hy vertroulik met hom wou praat. Toe pluk hy sy dolk uit en steek hom in die maag sodat hy sterf. Dit het hy gedoen uit weerwraak omdat Abner sy broer Asael doodgemaak het.

28. Toe Dawid dit agterna eers hoor, sê hy: “Ek en my koninkryk is onskuldig voor die Here oor die bloed van Abner seun van Ner.

29. Mag dit neerkom op die kop van Joab en sy familie. Mag sy familie in elke geslag vervloek wees deurdat hulle nooit sonder iemand sal wees wat bloei of ’n velaandoening het of wat met krukke loop of wat deur die swaard omkom of wat bedel vir kos nie!”

30. So het Joab en sy broer Abisai vir Abner doodgemaak omdat Abner hulle broer Asael in die geveg by Gibeon doodgemaak het.

31. Toe sê Dawid vir Joab en almal wat by hom was: “Skeur julle klere en trek rouklere aan. Rou oor Abner.” Koning Dawid het self agter die draagbaar in die begrafnisstoet na die graf toe geloop.

32. Hulle het Abner begrawe in Hebron. Die koning en al sy mense het by die graf gehuil.

33. Die koning het hierdie klaaglied vir Abner gesing:“Moes Abner sterf soos ’n dwaas?

34. Jou hande was nie vasgemaak nie;jou voete nie in kettings nie!Nee, jy is vermoor –’n slagoffer van bose mense.”Die hele volk het weer oor Abner gehuil.

35. Almal het Dawid op dié dag gesmeek om te eet terwyl dit dag was, maar hy het ’n eed afgelê: “Mag God my straf as ek enigiets voor sononder eet.”

36. Die hele volk het dit raakgesien en dit goedgekeur. Trouens, hulle het alles wat die koning gedoen het, goedgekeur.

37. Toe het almal, ook die hele Israel, besef dat Dawid nie vir Abner se dood verantwoordelik was nie.

38. Toe sê koning Dawid vir die volk: “Besef julle dat ’n leier, ’n groot man in Israel, vandag geval het?

39. Alhoewel ek die gesalfde koning is, is ek swak, want hierdie twee seuns van Seruja is te sterk vir my. Mag die Here met die bose man afreken vir sy bose daad.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 3