Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 3:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die gevegte tussen Saul se koningshuis en die ondersteuners van Dawid het lank voortgeduur. Gaandeweg het Dawid al sterker geword, terwyl Saul se koningshuis verswak het.

2. Die seuns wat in Hebron vir Dawid gebore is, was soos volg: Die oudste was Amnon, seun van Aginoam van Jisreël.

3. Die tweede was Kilab, seun van Abigajil, die weduwee van Nabal uit Karmel.Die derde was Absalom, seun van Maäka, dogter van Talmai, koning van Gesur.

4. Die vierde was Adonia, seun van Gaggit. Die vyfde was Sefatja, seun van Abital.

5. Die sesde was Jitream, seun van Dawid se vrou Egla.Hierdie seuns is almal in Hebron vir Dawid gebore.

6. Terwyl die oorlog tussen die twee koningshuise van Saul en Dawid voortgeduur het, het Abner algaande sterker geword in die Saulshuis.

7. Saul het ’n byvrou met die naam Rispa, dogter van Aja, gehad. Op ’n dag het Saul se seun Is-Boset vir Abner beskuldig: “Hoekom het jy my pa se byvrou Rispa gevat?”

8. Abner het hom gruwelik vir Is-Boset vererg. “Is ek dan ’n hond wat Juda wil help?” skree hy. “Is dit die beloning wat ek kry ná alles wat ek vir jou pa se huis gedoen het deur julle nie aan Dawid uit te lewer nie? Nou vind jy fout met my oor hierdie vrou!

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 3