Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 24:15-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Die Here stuur toe daardie oggend ’n pes oor Israel wat tot op die bestemde tyd geduur het. Oor die hele land, van Dan in die noorde tot Berseba in die suide, het 70 000 mense gesterf.

16. Die engel was op die punt om Jerusalem te verwoes, maar die Here het besluit om nie verder te gaan nie. Hy sê vir die engel wat die verwoesting gebring het: “Hou op! Dit is genoeg!” Op daardie oomblik was die engel van die Here by die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.

17. Toe Dawid die engel sien wat die mense tref, sê hy vir die Here: “Ek is die een wat gesondig het. Dis ek wat oortree het. Maar hierdie arme mense is onskuldig. Wat het hulle gedoen? Laat u hand eerder teen my en my familie wees!”

18. Nog daardie dag kom Gad na Dawid toe en sê vir hom: “Gaan bou ’n altaar vir die Here op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.”

19. Dawid het gedoen soos die Here deur Gad beveel het.

20. Toe Arauna sien dat die koning en sy amptenare na hom toe kom, het hy hom tegemoetgegaan en diep voor die koning gebuig.

21. “Hoekom kom my heer na sy dienaar toe?” vra Arauna.Dawid het geantwoord: “Ek het gekom om jou dorsvloer te koop om daar ’n altaar vir die Here te bou sodat die Here die plaag kan stop.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 24