Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 23:9-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Na hom was daar Eleasar seun van Dodo, die Agoagiet. Hy was een van die Driemanskap by Dawid toe die Filistyne by Garpam bymekaargekom het vir oorlog. Die Israeliete het gevlug,

10. maar hy het bly staan en die Filistyne afgemaai totdat sy hand so moeg geword het dat hy nie sy hand kon oopmaak en sy swaard kon los nie. Daardie dag het die Here ’n groot oorwinning gegee. Toe eers het die leër Eleasar gevolg, maar net om te plunder.

11. Die volgende in rang van die Driemanskap, was Samma seun van Agee uit Harar. Die Filistyne het op ’n keer by Legi versamel naby ’n landery vol lensies. Die Israeliete het gevlug,

12. maar Samma het vasgestaan in die landery, dit verdedig en die Filistyne teruggedryf. Die Here het aan hulle ’n groot oorwinning gegee.

13. Drie van die Dertigtal het eenkeer tydens die oestyd by Dawid by die Adullamgrot aangekom. Die Filistyne het in die Spooklaagte kamp opgeslaan.

14. Dawid was toe in die bergskuiling, terwyl ’n afdeling Filistyne die dorp Betlehem beset het.

15. Dawid het teenoor sy manskappe opgemerk: “Ag! As iemand my net ’n bietjie water kan bring uit die put in Betlehem se poort!”

16. Die drie helde het toe deur die Filistynse linie gebreek, die water uit die put opgetrek en dit vir Dawid gebring. Maar Dawid wou dit nie drink nie. Hy het dit as ’n offer voor die Here uitgegiet

17. en gesê: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek hiervan drink! Is dit nie soos die bloed van hierdie manne wat met lewensgevaar gegaan het nie?” Dawid het dit dus nie gedrink nie. Dis die soort heldedade van die drie krygsmanne.

18. Abisai seun van Seruja en broer van Joab, was die leier van die Dertigtal. Hy het eenkeer met sy spies 300 man in een geveg doodgemaak. Dis waarom hy beroemd geword het by die Dertigtal.

19. Abisai was die beroemdste van die Dertigtal en was hulle bevelvoerder, maar hy was nie een van die Driemanskap nie.

20. Dan was daar Benaja seun van Jojada, ’n dapper vegter uit Kabseël. Hy het twee sterk manne in Moab doodgemaak. Op ’n dag toe dit gesneeu het, het hy in ’n droë put geklim en ’n leeu daar doodgemaak.

21. ’n Ander keer het hy ’n sterk Egiptenaar doodgemaak. Die Egiptenaar was gewapen met ’n spies, terwyl Benaja net ’n stok gehad het. Maar Benaja het die spies uit die man se hand geruk en hom met sy eie spies doodgemaak.

22. Dit is sommige van die dade wat Benaja seun van Jojada gedoen het. Hy was beroemd onder die Dertigtal.

23. Hy was meer geëerd as die ander lede van die Dertigtal, maar het nie een van die Driemanskap geword nie. Dawid het hom bevelvoerder van sy lyfwag gemaak.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 23