Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 19:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Joab is vertel: “Kan jy dit glo! Die koning huil en rou sowaar oor Absalom!”

2. En hoe meer soldate gehoor het van die koning se hartseer oor sy seun, hoe meer het die vreugde van die oorwinning verander in trane.

3. Hulle het die stad binnegesluip soos manne wat skaam was omdat hulle uit die geveg weggehardloop het.

4. Maar die koning het sy gesig toegemaak en hard geroep: “My seun Absalom! Absalom, my seun, my seun!”

5. Joab het na die koning se kamer toe gegaan en vir hom gesê: “Vandag het u al die manskappe laat skaam kry. Hulle het u lewe en die lewe van u seuns en dogters, u vroue en byvroue gered.

6. U het nou hulle lief wat u haat, en u haat hulle wat u liefhet. U het dit vandag duidelik gemaak dat u niks omgee vir u bevelvoerders en manskappe nie. As Absalom nog gelewe het en ons almal dood was, sou u eerder tevrede gewees het.

7. “Kom nou buitentoe en stel die soldate gerus, want ek sê nou voor die Here, as u dit nie doen nie, sal daar teen vanaand nie een van hulle meer hier wees nie. Dit sal vir u rampspoediger wees as enige ramp wat u nog getref het.”

8. Die koning het toe uitgegaan en in die stadspoort gaan sit. Toe die soldate hoor: “Die koning sit in die poort,” het al die manskappe voor die koning verskyn.Intussen het die Israeliete wat Absalom ondersteun het na hulle huise toe gevlug.

9. Al die stamme van Israel het onder mekaar begin praat. Die volk het gesê: “Die koning het ons verlos van ons vyande, die Filistyne, maar Absalom het hom uit die land verjaag.

10. Nou is Absalom wat ons gesalf het om oor ons te regeer, dood. Laat ons Dawid vra om terug te kom en weer ons koning te wees.”

11. Die koning het verneem wat oral in Israel gesê word. Toe stuur hy die priesters Sadok en Abjatar om vir die leiers in Juda te sê: “Hoekom sou julle die heel laaste wees om die koning weer in sy amp te herstel?

12. Julle is tog my familie, my bloedverwante. Hoekom is julle die laaste om die koning terug te bring?”

13. Dawid laat weet toe vir Amasa: “Is jy dan nie bloedfamilie van my nie? Voor God beloof ek dat ek jou permanent sal aanstel as aanvoerder van die leër in die plek van Joab.”

14. Op hierdie manier het hy almal in Juda oortuig en hulle het eenparig vir Dawid laat weet: “Kom terug na ons toe en bring almal saam wat by u is!”

15. Die koning het teruggekom en die Jordaanrivier bereik. Die mense van Juda het by Gilgal bymekaargekom om die koning terug te verwelkom en hom oor die rivier te begelei.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 19