Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 17:8-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. “U weet dat u pa en sy manne dapper vegters is en op hierdie oomblik so aggressief is soos ’n beer wat van haar kleintjies beroof is. Onthou tog dat u pa ’n deurwinterde soldaat is. Hy sal nie by sy troepe oornag nie.

9. Hy kruip waarskynlik alreeds weg in een van die klowe of op ’n ander plek. En dan, sou daar in die begin al sommige manne omkom, sal daar paniek onder u troepe ontstaan sodat daar gesê sal word: ‘Daar was ’n groot slagting onder die manskappe van Absalom.’

10. Dan sal selfs die dapperstes van hulle bang word, selfs al het hulle die hart van ’n leeu. Onthou, die hele Israel weet u pa is baie dapper en dat sy manskappe heldhaftige krygers is.

11. “Ek beveel aan dat u die hele Israel, van Dan tot Berseba, oproep, ’n menigte so talryk soos die sand by die see. Dan moet u self die troepe lei.

12. Wanneer ons dan vir Dawid kry, waar hy ook al is, sak ons op hom toe soos dou op die grond val. Dan sal daar niks van hom of een van sy manne oorbly nie.

13. En as hy dalk na ’n stad toe vlug, kan die hele Israel toue gaan haal en die stad wegsleep tot in die naaste vallei sodat daar nie meer ’n klip oorbly nie.”

14. Toe sê Absalom en die leiers van Israel: “Gusai se raad is beter as dié van Agitofel.” Dis die Here wat gesorg het dat die goeie raad van Agitofel verydel word omdat die Here onheil oor Absalom wou bring.

15. Gusai het toe Sadok en Abjatar, die priesters, ingelig oor wat Agitofel gesê het en wat hy aanbeveel het. “Maak gou!” het hy gesê.

16. “Laat weet vir Dawid dat hy nie vannag by die driwwe na die woestyn moet oornag nie. Hy moet dadelik deurtrek, anders kan hy en sy hele leër uitgewis word.”

17. Jonatan en Agimaäs het by die Rogelfontein gewag. ’n Slavin het die boodskap vir koning Dawid aan hulle gebring, want iemand sou hulle dalk sien as hulle die stad binnegaan.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 17