Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 17:21-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Toe hulle weer weg is, het die twee jong manne uit die put geklim en hulle na Dawid toe gehaas. “Julle moet vannag nog gou die Jordaanrivier oorsteek!” sê hulle. Hulle vertel toe wat Agitofel aanbeveel het.

22. Dawid en al sy mense het daardie nag nog deur die Jordaanrivier getrek sodat hulle almal teen dagbreek aan die ander kant was.

23. Intussen het Agitofel agtergekom dat sy advies nie aanvaar is nie. Hy het toe sy donkie opgesaal en na sy huis in sy tuisdorp gegaan. Daar het hy finale opdragte aan sy familie gegee en homself gaan ophang. Hy het gesterf en is in die familiegraf begrawe.

24. Dawid het by Maganajim aangekom. Absalom en die hele leër van Israel het deur die Jordaanrivier getrek.

25. Absalom het Amasa in Joab se plek as bevelvoerder van sy leër aangestel. Amasa was Joab se neef. Sy pa was Jeter, ’n Ismaeliet. Sy ma, Abigal dogter van Nagas, was ’n suster van Joab se ma Seruja.

26. Die leër van Israel en Absalom het in Gilead kamp opgeslaan.

27. Toe Dawid by Maganajim uitkom, het Sobi seun van Nagas van Rabba, ’n Ammoniet; en Makir seun van Ammiël van Lo-Dabar; en Barsillai die Gileadiet van Rogelim

28. slaapmatte en erdepotte vir hulle gebring. Hulle het ook koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies,

29. asook heuning, botter, skape en kaas vir Dawid en sy mense saamgebring. Hulle het gesê: “Julle moet almal baie moeg en honger en dors wees na julle lang tog deur die woestyn.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 17