Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 14:2-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Hy laat roep toe ’n vrou van Tekoa wat bekend was vir haar wysheid. Hy sê vir haar: “Maak of jy iemand is wat rou. Trek rouklere aan en moenie reukolie gebruik nie. Tree op soos ’n vrou wat vir ’n lang tyd al treur oor iemand wat dood is.

3. Gaan dan na die koning toe en maak soos wat ek jou nou gaan voorsê.” Joab het haar toe vertel wat om te sê.

4. Toe die vrou van Tekoa by die koning kom, het sy voor hom op die grond neergeval en uitgeroep: “Koning! Help my tog!”

5. “Wat is die probleem?” vra die koning.“Ek is ’n weduwee,” antwoord sy, “want my man is dood.

6. Ek het twee seuns gehad. Hulle het in die veld met mekaar baklei. Omdat daar niemand was om hulle uitmekaar te maak nie, het die een die ander doodgeslaan.

7. Nou het die hele familie teen my gedraai en eis: ‘Lewer jou seun uit. Ons sal hom teregstel omdat hy sy broer doodgemaak het. Ons wil hom doodmaak, al is hy die enigste erfgenaam.’ Maar as hulle dit doen, sal daar niemand vir my oorbly nie en die naam van my man en sy familie sal van die aarde af verdwyn.”

8. “Gaan maar gerus huis toe,” sê die koning vir haar. “Ek sal toesien dat niemand hom kwaad aandoen nie.”

9. “My heer die koning,” antwoord sy, “laat enige skuld op my en my familie neerkom, want die koning en sy troon is onskuldig.”

10. “Moenie jou daaroor bekommer nie!” antwoord die koning. “As iemand hieroor met jou praat, bring hom na my toe. Hy sal jou nie weer pla nie!”

11. Toe sê sy: “Lê asseblief ’n eed af by die Here u God dat die bloedwrekers nie wraak op my seun sal neem en hom doodmaak nie.”“So waar as die Here leef,” antwoord die koning, “daar sal nie ’n haar van jou seun se kop val nie!”

12. “Mag ek net nog iets vir u sê?” sê sy.“Praat gerus,” moedig hy haar aan.

13. Sy het geantwoord: “Hoekom neem u dan ook wraak tot nadeel van die volk van God? Met hierdie uitspraak het u uself veroordeel, want u het geweier om u eie verstote seun weer huis toe te bring.

14. Almal van ons moet een of ander tyd sterf. Ons lewens is soos water wat op die grond gestort is en nie weer herwin kan word nie. Maar God wil nie ’n lewe neem nie. Hy beraam planne sodat die verstoteling nie van Hom verstote sal bly nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 14