Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 6:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe het Salomo gebid: “O Here, U het gesê dat U in duisternis woon.

2. Daarom het ek vir U’n glorieryke tempel gebou, waar U vir altyd kan woon!”

3. Daarna het die koning hom gedraai na die hele vergadering van Israel wat voor hom gestaan het en hulle soos volg geseën:

4. “Geseënd is die Here die God van Israel, wat getrou was aan die belofte wat Hy aan my pa gemaak het. Hy het vir my pa gesê:

5. ‘Sedert die dag toe Ek my volk uit Egipte gebring het, het Ek nooit ’n stad gekies onder die stamme van Israel om te dien as die plek waar ’n tempel tot eer van my Naam opgerig moet word nie. Nog minder het Ek ’n koning gekies om my volk Israel te lei.

6. Maar nou het Ek Jerusalem gekies as daardie stad, en Dawid as daardie koning oor my volk Israel.’”

7. Salomo het verder gesê: “My pa Dawid wou hierdie tempel tot eer van die Naam van die Here die God van Israel bou.

8. Maar die Here het vir hom gesê: ‘Dit is reg dat jy ’n tempel tot eer van my Naam wil bou,

9. maar jy sal dit nie doen nie. In jou plek sal een van jou seuns dit bou.’

10. “En nou het die Here gedoen wat Hy beloof het, want ek het koning geword oor Israel in die plek van my pa. Dis tot eer van die Naam van die Here, die God van Israel, dat ek hierdie tempel gebou het.

11. Ek het die verbondsark hier gesit, en in die verbondsark is die verbond wat die Here met die volk van Israel gesluit het.”

12. Daarna het Salomo met sy hande uitgestrek gaan staan voor die altaar van die Here en voor die hele gemeente van Israel.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 6