Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 36:3-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Neko, die koning van Egipte, het koning Joahas in Jerusalem onttroon en die land met ’n halwe ton silwer en 34 kilogram goud beboet.

4. Die koning van Egipte het Eljakim, broer van Joahas, as die nuwe koning van Juda en Jerusalem aangestel. Hy het ook die naam van Eljakim verander na Jojakim. Neko het Joahas as gevangene na Egipte toe geneem.

5. Jojakim was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en het elf jaar in Jerusalem regeer. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here sy God.

6. Koning Nebukadnesar van Babel het na Jerusalem toe gekom en dit ingeneem. Hy het Jojakim met bronskettings geboei en hom na Babel toe geneem.

7. Nebukadnesar het ook van die skatte uit die tempel van die Here gevat en dit in sy paleis in Babel gesit.

8. Die ander gebeurtenisse tydens Jojakim se regering, die afskuwelike dinge wat hy gedoen het en alles wat teen hom gevind is, is opgeteken in Die boek van die konings van Israel en Juda. Sy seun Jojagin het hom as koning opgevolg.

9. Jojagin was agtien jaar oud toe hy koning geword het, maar hy het net drie maande en tien dae in Jerusalem regeer. Jojagin het gedoen wat verkeerd was vir die Here.

10. In die lente het koning Nebukadnesar hom laat haal. Hulle het ook baie kosbare voorwerpe uit die tempel van die Here geneem en dit na Babel toe gebring. Hy het Sedekia, die oom van Jojagin, oor Juda en Jerusalem koning gemaak.

11. Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het elf jaar in Jerusalem regeer.

12. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here sy God en het nie berou gehad toe Jeremia die profeet die woorde van die Here verkondig het nie.

13. Hy het ook teen koning Nebukadnesar in opstand gekom al het hy ’n eed van getrouheid voor God afgelê. Sedekia was hardkoppig en onversetlik en het geweier om terug te draai na die Here die God van Israel.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 36