Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 33:10-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Die Here het met Manasse en sy volk gepraat, maar hulle het al sy waarskuwings geïgnoreer.

11. Daarom het die Here die Assiriese leërs teen hulle gestuur en hulle het Manasse gevange geneem. Hulle het ’n ring deur sy neus gesit, hom met bronskettings vasgemaak en na Babel toe gevat.

12. Terwyl hy in die diepste nood was, het Manasse die Here sy God om genade gevra en hom voor die God van sy voorouers verootmoedig.

13. Toe hy bid, het die Here na hom geluister en sy gebed verhoor en hom laat terugkeer na Jerusalem en sy koninkryk. Manasse het uiteindelik besef dat net die Here God is.

14. Hierna het Manasse die buitemure van die Dawidstad herbou wes van die Gihonfontein in die vallei tot by die Vispoort en om die Ofelheuwel. Hy het die muur baie hoër gemaak en bevelvoerders in al die versterkte stede van Juda aangestel.

15. Hy het die vreemde gode en afgodsbeeld uit die tempel van die Here verwyder en buite die stad weggegooi. Hy het dieselfde gedoen met al die altare wat hy op die tempelberg en in Jerusalem gebou het.

16. Daarna het hy die altaar van die Here herstel en die maaltyd- en dankoffers daarop gebring. Hy het die inwoners van Juda beveel om die Here die God van Israel te dien.

17. Die volk het nog steeds by die heidense heiligdomme geoffer, maar net aan die Here hulle God.

18. Die ander gebeurtenisse tydens Manasse se regering, sy gebed tot God en die woorde wat sieners in die Naam van die Here die God van Israel vir hom gebring het, is opgeteken in Die boek van die konings van Israel.

19. Manasse se gebed en hoe sy pleidooi die Here ontroer het, al sy sondes en ontrouheid, die plekke waar hy die heidense heiligdomme, Asjerapale en afgodsbeelde opgerig het voordat hy berou gehad het, is opgeteken in Die annale van die sieners.

20. Toe Manasse sterf, is hy begrawe by sy paleis. Sy seun Amon het hom opgevolg.

21. Amon was 22 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar in Jerusalem regeer.

22. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy pa Manasse gedoen het. Vir al die beelde wat sy pa gemaak het, het hy offers gebring en hulle gedien.

23. Hy het egter nie homself voor die Here verootmoedig soos sy pa gedoen het nie. Trouens, Amon het nog meer gesondig.

24. Amon se eie beamptes het teen hom saamgesweer en hulle het hom in sy paleis vermoor.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 33