Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 32:15-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Moenie dat Hiskia julle vir die gek hou nie! Moenie toelaat dat hy julle so mislei nie! Moenie hom glo nie. Ek herhaal: Geen god van enige nasie of koninkryk was ooit in staat om sy mense uit my mag of enige van my voorgeslag te verlos nie. Hoeveel minder is die kans dat julle God julle uit my mag sal red!”

16. Sanherib se boodskappers het die Here God en sy dienaar Hiskia nog meer gespot met belediging op belediging.

17. Die koning het ook briewe gestuur waarin hy die Here die God van Israel geminag het. Hy het geskryf: Net soos die gode van al die ander nasies nie hulle mense uit my mag kon red nie, so sal die God van Hiskia ook misluk.

18. Die Assiriërs wat die briewe gebring het, het dit in die Judese dialek geskree aan die volk wat op die mure van die stad versamel het. Daarmee wou hulle die mense op die mure van die stad bangmaak sodat hulle die stad makliker kon inneem.

19. Hierdie boodskappers het oor die God van Jerusalem gepraat asof Hy een van die heidense gode is wat deur mense gemaak is.

20. Toe het koning Hiskia en die profeet Jesaja seun van Amos gebid en na die hemel geroep.

21. Die Here stuur toe ’n engel wat die Assiriese leër met al die bevelhebbers en offisiere vernietig het. Sanherib het in skande na sy eie land toe teruggegaan. Toe hy die tempel van sy god binnegegaan het, het sommige van sy eie seuns hom net daar met ’n swaard doodgemaak.

22. Dit is hoe die Here Hiskia en die inwoners van Jerusalem gered het uit die mag van koning Sanherib van Assirië en van almal wat hom bedreig het. Daar was uiteindelik vrede in die hele land.

23. Baie mense het vir die Here in Jerusalem offers gebring en ook waardevolle geskenke vir koning Hiskia. Van toe af het sy aansien onder die omliggende volke toegeneem.

24. Ongeveer hierdie tyd het Hiskia dodelik siek geword. Hy het tot die Here gebid, en God het hom gesond gemaak en ’n wonderteken gegee.

25. Maar Hiskia het nie toepaslik geantwoord op die goedheid wat aan hom bewys is nie en het trots geword. Daarom het die toorn van die Here hom, Juda en Jerusalem getref.

26. Toe het Hiskia berou gehad oor sy trots en so ook die inwoners van Jerusalem. Die Here se toorn het toe nie tydens Hiskia se regering oor hulle gekom nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 32