Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 29:12-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Die Leviete het toe dadelik aan die werk gespring. Uit die familiegroep Kehat: Magat seun van Amasai, en Joël seun van Asarja. Uit die familiegroep Merari: Kis seun van Abdi, en Asarja seun van Jehallelel. Uit die familiegroep Gerson: Joag seun van Simma, en Eden seun van Joag.

13. Uit die familiegroep Elisafan: Simri en Jeïel. Uit die familiegroep Asaf: Sagaria en Mattanja.

14. Uit die familiegroep Heman: Jegiël en Simi. Uit die familiegroep Jedutun: Semaja en Ussiël.

15. Hierdie manne het hulle broers bymekaargeroep en hulleself gereinig. Toe het hulle begin om die tempel van die Here te reinig soos die koning beveel het in ooreenstemming met die voorskrifte van die Here.

16. Die priesters het die tempel van die Here binne gaan reinig. Hulle het alles verwyder wat onrein was in die tempel van die Here en dit na die voorhof toe gebring. Die Leviete het dit daarvandaan na die Kedronvallei geneem.

17. Hulle het die werk op die eerste dag van die eerste maand begin en teen die agtste dag gevorder tot by die voorportaal van die Here se tempel. Daarna het dit nog agt dae geneem om die tempel te reinig. Die hele reiniging het dus veertien dae geduur.

18. Toe het die Leviete na koning Hiskia gegaan en aan hom verslag gedoen: “Ons het die hele tempel van die Here, die altaar vir brandoffers met al die toebehore, en die tafel vir die offerbrood met al die toebehore gereinig.

19. Ons het ook al die voorwerpe wat koning Agas weggeneem het toe hy ontrou was tydens sy regering, teruggekry. Dit is nou voor die altaar van die Here, gereinig en gereed vir gebruik.”

20. Vroeg die volgende oggend het koning Hiskia die stadsamptenare bymekaargeroep en na die tempel van die Here gegaan.

21. Hulle het sewe beeste, sewe ramme, sewe lammers en sewe bokramme as sonde-offer vir die koninkryk, vir die tempel en vir Juda gebring. Die koning het die priesters wat uit die geslag van Aäron was, beveel om die diere op die altaar van die Here te offer.

22. Hulle het die beeste geslag, en die priesters het die bloed op die altaar gesprinkel. Daarna het hulle die ramme geslag en hulle bloed op die altaar gesprinkel. Hulle het dieselfde met die lammers gedoen.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 29