Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 29:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hiskia was 25 jaar oud toe hy koning van Juda geword het. Hy het 29 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Abia, dogter van Sagaria.

2. Hy het gedoen wat reg was vir die Here, net soos sy voorvader Dawid gedoen het.

3. In die eerste maand van die eerste jaar van sy regering het Hiskia die deure van die tempel van die Here heropen en dit herstel.

4. Hy het die priesters en Leviete ontbied om hom in die binnehof oos van die tempel te ontmoet.

5. Hy het vir hulle gesê: “Luister na my, Leviete! Reinig julleself en reinig die tempel van die Here, die God van julle voorouers. Verwyder alles wat besoedel is uit die tempel.

6. Ons voorouers was ontrou en het dinge gedoen wat vir die Here ons God boos was. Hulle het die Here verlaat. Hulle het weggegaan en die rug op sy tempel gedraai.

7. Hulle het ook die deure na die voorportaal gesluit en die lampe doodgemaak. Hulle het opgehou om wierook te brand en om brandoffers in die heiligdom van die God van Israel te bring.

8. Dit is waarom die Here se toorn oor Juda en Jerusalem toegesak het. Hy het hulle ’n voorwerp van vrees, afsku en bespotting gemaak soos wat julle so duidelik kan sien.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 29