Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 28:3-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Hy het in die Ben-Hinnomvallei offers gebring, en selfs van sy seuns laat verbrand. Dit was in navolging van die afskuwelike praktyke van die heidense nasies wat deur die Here voor die Israeliete uit die land verdryf is.

4. Hy het offerandes en wierook op die hoogtes, op al die heuwels en onder elke groen boom gebring.

5. Dit is waarom die Here sy God toegelaat het dat die koning van Aram vir Agas verslaan en ’n groot aantal van sy volk na Damaskus weggevoer het. God het hom ook oorgegee aan die koning van Israel, en hy het hom ’n groot neerlaag toegedien.

6. Op ’n enkele dag het Peka seun van Remalja 120 000 van Juda se soldate doodgemaak omdat hulle die Here, die God van hulle voorouers, verlaat het.

7. Toe het Sikri, ’n krygsman uit Efraim, vir Maäseja seun van die koning, Asrikam die paleisbestuurder en die onderkoning Elkana doodgemaak.

8. Die leërs van Israel het 200 000 vroue, seuns en dogters van hulle bloedverwante uit Juda gevang en ook baie buit na Samaria toe saamgevat.

9. Maar ’n profeet van die Here met die naam Oded was in Samaria toe die leër van Israel teruggekom het. Hy het hulle tegemoetgegaan en gesê: “Die Here, die God van julle voorouers, was kwaad vir Juda en het toegelaat dat julle hulle verslaan. Maar julle het te ver gegaan deur hulle sonder genade dood te maak en dit skrei ten hemel.

10. En nou beplan julle om van hierdie mense uit Juda en Jerusalem slawe en slavinne te maak. Wat van julle eie sondes teen die Here julle God?

11. Luister na my en stuur hierdie gevangenes terug, want hulle is julle bloedverwante. Pas op, want die oordeel van die Here het nou teen julle gedraai!”

12. Toe het sommige van die leiers van die Efraimiete, Asarja seun van Joganan, Berekja seun van Mesillemot, Hiskia seun van Sallu, en Amasa seun van Gadlai, saamgestem en hulle het die manskappe gekonfronteer wat teruggekom het na die oorlog:

13. “Julle kan nie die gevangenes hiernatoe bring nie!” het hulle gesê. “Ons kan nie bekostig om nog skuld by ons sondes te voeg nie. Ons skuld is reeds groot, en die toorn van die Here het alreeds teen Israel gedraai.”

14. Die soldate het toe die gevangenes vrygelaat en die buit in die teenwoordigheid van al die leiers en die vergadering teruggegee.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 28