Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 24:12-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Die koning en Jojada het die geld aan die toesighouers oor die konstruksiewerk van die tempel van die Here gegee. Húlle het weer messelaars en skrynwerkers gekry om die tempel van die Here te herstel. Hulle het ook metaalwerkers gehuur. Hulle het voorwerpe van yster en brons gemaak vir die herstelwerk van die tempel van die Here.

13. Die manne in bevel van die opknapping het hard gewerk en geleidelik vordering gemaak. Hulle het die tempel van God volgens die oorspronklike planne gerestoureer en dit versterk.

14. Toe al die herstelwerk afgehandel was, het hulle die oorblywende bedrag geld teruggebring na die koning en na Jojada. Dit is gebruik om gereedskap vir die tempel van die Here te maak. Dit was werktuie vir die brandoffers, insluitend die bakke en ook goue en silwer gereedskap. So lank as wat Jojada die priester gelewe het, is die brandoffers voortdurend in die tempel van die Here gebring.

15. Jojada het tot ’n baie rype ouderdom geleef en het gesterf toe hy 130 jaar oud was.

16. Hy is begrawe by die konings in die Dawidstad, want hy het baie goeie dinge in Israel gedoen, vir God en sy tempel.

17. Na Jojada se dood het die leiers van Juda gekom, voor koning Joas gebuig en hom oorreed om na hulle raad te luister.

18. Hulle het toe besluit om die tempel van die Here, die God van hulle voorouers, te verlaat. Hulle het eerder die Asjerapale en afgode aanbid. Die toorn van God het weens hierdie sonde teen Juda en Jerusalem ontbrand.

19. Die Here het profete gestuur om hulle na Hom terug te bring. Die profete het die mense gewaarsku, maar hulle wou nie luister nie.

20. Toe het die Gees van God op Sagaria seun van Jojada die priester gekom. Hy het voor die volk gesê: “Dit is wat God sê: Hoekom oortree julle die gebooie van die Here? Julle sal nie voorspoedig wees nie. Julle het die Here verlaat, en nou het Hy julle verlaat!”

21. Toe het die leiers saamgesweer om Sagaria dood te maak. Op bevel van koning Joas het hulle hom in die voorhof van die tempel gestenig.

22. Koning Joas het nie gedink aan die goedheid wat Jojada aan hom bewys het nie, maar sy seun doodgemaak. Sagaria se laaste woorde toe hy sterf, was: “Mag die Here sien wat julle doen en julle straf!”

23. Met die wisseling van die jaar het die Aramese leër teen Joas opgetrek. Hulle het Juda en Jerusalem binnegeval en al die leiers van die volk doodgemaak. Daarna het hulle al die buit na hulle koning in Damaskus gestuur.

24. Hoewel die Arameërs met min soldate opgetrek het, het die Here hulle gehelp om die baie groter leër van Juda te verslaan. Die volk het die Here die God van hulle voorouers verlaat. Daarom is die oordeel oor Joas voltrek.

25. Die Arameërs het teruggetrek en Joas ernstig gewond agtergelaat. Sy eie offisiere het teen hom saamgesweer en hom in sy bed vermoor. Dit was omdat hy die seun van Jojada die priester laat doodmaak het. Hy is begrawe in die Dawidstad, maar nie in die koninklike begraafplaas nie.

26. Die moordenaars was Sabad seun van ’n Ammonitiese vrou met die naam Simat, en Josabad, seun van ’n Moabitiese vrou met die naam Somer.

27. Die volledige vertelling oor die seuns van Joas, die profesieë oor hom, en die verslag oor die herstel van die tempel van God is geskryf in die Kommentaar op die boek Konings. Toe hy sterf, het sy seun Amasia hom opgevolg.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 24