Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 23:10-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Hy het die wagte rondom die koning geplaas, gereed met hulle wapens. Hulle het ’n ry gevorm van die suidekant van die tempel af, om na die noordekant, en rondom die altaar.

11. Toe bring Jojada en sy seuns vir Joas, die koning se seun, en sit die kroon op sy kop. Hulle het ’n afskrif van God se gebooie aan hom gegee en hom tot koning verklaar. Daarna het hulle hom gesalf. Almal het uitgeroep: “Lank lewe die koning!”

12. Toe Atalia hoor hoe mense hardloop en die koning toejuig, het sy gou na die mense by die tempel van die Here gegaan.

13. Sy het die pasgekroonde koning gesien wat op sy plek van gesag by die pilaar, by die ingang na die tempel gestaan het. Die leiers en trompetblasers was rondom hom, en mense van oral in die land het gejuig en op trompette geblaas. Sangers met musiekinstrumente het die lofliedere gelei. Toe Atalia dit alles sien, het sy haar klere in wanhoop geskeur en geskreeu: “Verraad! Verraad!”

14. Jojada die priester beveel toe die leiers wat in bevel was van die soldate: “Neem haar uit die tempel en maak enigeen met die swaard dood wat probeer om haar te red. Moet haar nie hier in die tempel van die Here doodmaak nie.”

15. Hulle het haar gevang en haar tot buite die Perdepoort by die paleis gevat. Daar het hulle haar doodgemaak.

16. Daarna het Jojada ’n verbond gemaak tussen hom, die koning en die volk dat hulle ’n volk sal wees wat die Here dien.

17. Al die mense het na die Baältempel toe gegaan en dit afgebreek. Hulle het die altare vernietig en die afgodsbeelde verpletter. Hulle het ook Mattan, die priester van Baäl, voor die altare doodgemaak.

18. Jojada het die toesig oor die huis van die Here weer aan die Levitiese priesters toevertrou, volgens die voorskrifte van Dawid. Hulle moes ook brandoffers vir die Here bring soos voorgeskryf deur Moses, met gejuig en sang soos Dawid bepaal het.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 23