Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 14:6-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Gedurende daardie vredevolle jare was hy in staat om versterkte stede oral in Juda te bou. In hierdie tyd het niemand probeer om teen hom oorlog te maak nie, want die Here het hom rus gegee van al sy vyande.

7. Asa het vir Juda gesê: “Laat ons dorpe bou en hulle versterk met mure, torings, hekke en sluitbalke. Die land is ons s’n, want ons het die Here ons God gedien en Hy het ons rus van ons vyande gegee.” Hulle het toe voortgegaan met hierdie bouwerk en dit voltooi.

8. Koning Asa het uit die stam Juda ’n leër van 300 000 soldate gewapen met groot skilde en spiese gehad. Uit die stam van Benjamin het hy ’n leër gehad van 280 000 soldate gewapen met klein skilde en pyl en boog. Albei leërs is saamgestel uit dapper vegters.

9. Op ’n dag het ’n Kussiet met die naam Serag Juda aangeval met ’n leër van een miljoen manskappe en 300 strydwaens. Hulle het tot by die stad Maresa gevorder.

10. Asa het sy leërs vir ’n geveg in die vallei noord van Maresa opgestel.

11. Hy het na die Here sy God om hulp geroep en gesê: “Here, niemand behalwe U kan dié wat hulpeloos is, help teen dié wat magtig is nie. Help ons, Here ons God, want ons vertrou net op U alleen. Dit is in u Naam dat ons teen hierdie hordes stelling ingeneem het. Here, U is ons God; moenie toelaat dat blote mense teen U seëvier nie!”

12. Die Here het die Kussiete voor Asa en die leër van Juda verslaan sodat hulle gevlug het.

13. Asa en sy leër het hulle agtervolg tot so ver as Gerar. Daar het so baie van die Kussiete omgekom dat hulle leër nie weer kon herstel nie. Hulle is deur die Here en sy leër verslaan, en die leër van Juda het baie goedere buitgemaak.

14. Terwyl hulle by Gerar was, het hulle al die dorpe in die omgewing aangeval sodat die vrees van die Here oor daardie mense gekom het. Gevolglik het hulle ook hier baie goedere buitgemaak.

15. Hulle het ook die tente van die veewagters aangeval en baie skape en kamele geroof en daarmee teruggekeer na Jerusalem toe.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 14