Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 13:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Abia het in die agtiende jaar van Jerobeam se bewind in Israel koning in Juda geword.

2. Hy het drie jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Maäka, ’n dogter van Uriël uit Gibea.Daar het oorlog uitgebreek tussen Abia en Jerobeam.

3. Juda, gelei deur koning Abia, het 400 000 geoefende soldate gehad, terwyl Jerobeam opgetrek het met 800 000 dapper manne.

4. Toe die leër van Juda in Efraimsberg aankom, het Abia op die Semarajimberge gaan staan en vir Jerobeam en die Israelitiese leër geskreeu: “Luister na my!

5. Besef julle nie dat die Here die God van Israel ’n onbreekbare verbond met Dawid gesluit het dat sy nageslag vir altyd op die troon van Israel sal sit nie?

6. Tog het Jerobeam seun van Nebat, wat maar ’n dienaar van Dawid se seun Salomo was, ’n verraaier van sy meester geword.

7. Toe het ’n hele bende skurke by hom aangesluit en Salomo se seun Rehabeam uitgedaag toe hy nog jonk en onervare was en nie teen hulle kon standhou nie.

8. Dink julle regtig dat julle in opstand kan kom teen die koninkryk van die Here wat deur die afstammeling van Dawid gelei word? Julle leër is inderdaad groot, maar saam met julle is die goue kalwers wat Jerobeam tot gode verhef het.

9. Julle het die priesters, die nageslag van Aäron, en die Leviete van die Here verjaag en julle eie priesters aangestel, net soos die heidennasies. Julle laat deesdae enigiemand toe om as priester te dien! Wie ook al kom met ’n jong bees en sewe ramme kan ’n priester word van hierdie sogenaamde gode van julle!

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 13