Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 2:12-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Toe Elisa dit sien, roep hy uit: “My vader! My vader! Die strydwa en perderuiters van Israel!” Toe Elisa hom nie meer kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee geskeur.

13. Maar Elia se mantel het afgeval en Elisa het dit opgetel. Toe gaan hy terug en gaan staan by die wal van die Jordaanrivier.

14. Hy het Elia se mantel wat afgeval het, gevat, daarmee op die water geslaan en uitgeroep: “Waar is die Here, die God van Elia, ja, Hy?” Toe hy die water slaan, het dit weerskante toe verdeel sodat hy kon deurgaan.

15. Die groep profete van Jerigo het oorkant gestaan en gesien wat gebeur het. Hulle sê toe: “Elisa is Elia se opvolger!” Hulle het hom tegemoetgegaan en voor hom gebuig.

16. “Meneer,” sê hulle, “hier is 50 dapper manne onder ons. Laat hulle tog na u leermeester gaan soek. Miskien het die Gees van die Here hom opgelig en êrens op ’n berg of in ’n vallei neergesit.”“Nee,” sê Elisa, “moenie hulle stuur nie.”

17. Hulle het egter aangehou sodat hy moes toegee: “Goed, stuur hulle maar.” Die 50 manne het drie dae lank gesoek, maar kon nie vir Elia opspoor nie.

18. Elisa was nog in Jerigo toe hulle terugkom. “Het ek dan nie vir julle gesê julle moenie gaan nie?” vra hy.

19. Die inwoners van Jerigo het Elisa besoek en gesê: “Hierdie dorp is in ’n pragtige omgewing geleë, soos u self kan sien. Maar die water is onbruikbaar en die landerye is onvrugbaar.”

20. Elisa sê: “Bring vir my ’n nuwe skottel met sout daarin.” Hulle het dit gedoen.

21. Toe gaan hy na die fontein waar die dorp water vandaan gekry het en gooi die sout daarin. Hy sê: “Dit is wat die Here sê: Ek maak hierdie water bruikbaar. Dit sal nie meer dood of onvrugbaarheid veroorsaak nie.”

22. Die water het tot vandag toe bruikbaar gebly, net soos Elisa gesê het.

23. Elisa het daarna na Bet-El toe opgegaan. Terwyl hy in die pad loop, kom ’n groep klein seuntjies uit die dorp en begin hom spot. “Gaan op, kaalkop!” het hulle uitgeroep. “Gaan op, kaalkop!”

24. Elisa het omgedraai, na hulle gekyk en hulle in die Naam van die Here vervloek. Toe kom daar twee bere uit die bos en verskeur 42 van hulle.

25. Daarvandaan het Elisa na Karmelberg gegaan, en daarna terug na Samaria toe.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 2