Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 15:24-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

24. Maar Pekahia het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het nie gebreek met die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

25. Sy bevelhebber, Peka seun van Remalja, het teen hom saamgesweer. Hy het met 50 manskappe van Gilead af gekom en Pekahia saam met Argob en Arje in die toring van die paleis in Samaria aangeval. Hy het hom doodgemaak en in sy plek koning geword.

26. Die ander gebeurtenisse tydens Pekahia se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

27. Peka seun van Remalja het koning geword oor Israel in die 52ste jaar van Asarja se bewind in Juda. Hy was twintig jaar lank koning in Samaria.

28. Maar hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het nie gebreek met die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

29. Gedurende sy bewind het koning Tiglat-Pileser van Assirië die dorpe Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes en Hasor verower. Hy het ook die streke van Gilead, Galilea en Naftali verower en die inwoners as gevangenes na Assirië toe weggevoer.

30. Hosea seun van Ela het toe teen Peka seun van Remalja saamgesweer. Hy het hom aangeval, hom doodgemaak en koning van Israel geword in die twintigste jaar van Jotam seun van Asarja.

31. Die ander gebeurtenisse tydens Peka se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

32. Jotam seun van Asarja het koning geword oor Juda in die tweede jaar van koning Peka se bewind oor Israel.

33. Hy was 25 jaar oud toe hy koning geword het en het sestien jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jerusa, dogter van Sadok.

34. Jotam het gedoen wat reg was vir die Here, net soos sy pa Asarja gedoen het.

35. Hy het egter nie die hoogtes waar die volk vir die afgode offers gebring en wierook gebrand het, vernietig nie. Hy het die boonste poort van die tempel van die Here herbou.

36. Die ander gebeurtenisse tydens Jotam se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.

37. Gedurende sy bewind het die Here begin om koning Resin van Aram en koning Peka van Israel te stuur om Juda aan te val.

38. Toe Jotam sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy seun Agas het hom opgevolg.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 15