Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 9:14-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Hulle het teen die steilte opgegaan. Toe hulle die dorp binnekom, kom Samuel hulle tegemoet terwyl hy op pad was om op te gaan na die hoogte toe.

15. Die Here het al die vorige dag vertroulik aan Samuel bekendgemaak dat Saul sou kom. Hy het gesê:

16. “Môre omtrent hierdie tyd sal Ek ’n man uit Benjamin na jou toe stuur. Salf hom tot leier van my volk Israel. Hy sal hulle red van die mag van die Filistyne, want Ek het die nood van my volk raakgesien en hulle hulpgeroep gehoor.”

17. Toe Samuel vir Saul sien, sê die Here vir hom: “Dit is die man waarvan Ek jou vertel het. Hy sal oor my volk regeer.”

18. Op daardie oomblik gaan Saul na Samuel toe en vra: “Kan u asseblief vir my sê waar die huis van die siener is?”

19. “Ek is die siener!” antwoord Samuel. “Gaan solank voor my teen die hoogte uit na die offerplek toe. Daar sal ons saam eet. Môre-oggend sal ek vir jou sê wat jy wil weet en jou dan laat gaan.

20. En moet jou nie meer bekommer oor jou pa se donkies wat drie dae gelede weggeraak het nie, want hulle is alreeds gevind. Die hoop van die hele Israel is egter op jou en jou familie gerig.”

21. Saul antwoord hom: “Ek is maar net ’n Benjaminiet, die kleinste stam in Israel. My familie is boonop die geringste van al die families van ons stam! Hoekom praat u so met my?”

22. Samuel neem toe vir Saul en die jong man na die eetvertrek en laat hulle op ’n ereplek sit saam met die ongeveer 30 genooides.

23. Daarna sê Samuel vir die kok: “Bring dit wat ek vir jou gegee het en gevra het om eenkant te sit.”

24. Die kok bring toe die boud vleis en sit dit neer voor Saul. Samuel sê toe: “Eet wat aan jou voorgesit is. Ek het dit vir jou gebêre voordat ek die ander genooi het!” So het Samuel en Saul op dié dag saamgeëet.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 9