Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 7:4-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Die Israeliete het toe die beelde van Baäl en Astarte verwyder en net die Here gedien.

5. Toe sê Samuel vir hulle: “Die hele Israel moet by Mispa bymekaarkom. Dan sal ek vir julle tot die Here bid.”

6. Hulle het toe daar bymekaargekom. Hulle het water uit ’n put opgetrek en dit voor die Here uitgegooi. Hulle het ook vir ’n dag lank gevas. “Ons het teen die Here gesondig,” het hulle bely. By Mispa het Samuel as rigter in Israel begin optree.

7. Toe die Filistynse heersers hoor dat die hele Israel by Mispa bymekaargekom het, het hulle teen Israel opgetrek. Die Israeliete was baie bang vir die Filistyne.

8. “Bid tog ernstig by die Here ons God om ons van die Filistyne te verlos!” smeek hulle vir Samuel.

9. Samuel neem toe ’n lam, offer dit as ’n brandoffer vir die Here en pleit dat die Here Israel teen die Filistyne sal help. En die Here het sy gebed verhoor.

10. Terwyl Samuel nog besig was om te offer, kom die Filistyne daar aan om teen Israel te veg. Maar die Here het ’n groot donderstorm laat losbars. Dit het die Filistyne verwar sodat Israel hulle verslaan het.

11. Die Israeliete het hulle agtervolg van Mispa af en hulle tot by Bet-Kar afgemaai.

12. Samuel neem toe ’n groot klip en sit dit regop tussen Mispa en Sen. Hy noem dit toe Eben-Haeser, want het hy gesê: “Tot hiertoe het die Here ons gehelp.”

13. Die Filistyne is verslaan en het Israel vir ’n lang tyd nie weer binnegeval nie. Solank Samuel gelewe het, het die Here Israel teen hulle beskerm.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 7