Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 28:8-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Saul het homself vermom en ander klere aangetrek. Vergesel van twee van sy manskappe het hy in die nag na die vrou se huis toe gegaan.“Raadpleeg vir my die gees van ’n afgestorwene,” sê hy. “Roep die een op wat ek vir jou sal sê.”

9. “Nee!” sê die vrou. “Jy weet mos dat Saul alle dodebesweerders en waarsêers uit die land verban het. Hoekom stel jy vir my ’n strik sodat ek moet sterf?”

10. Maar Saul het ’n eed afgelê in die Naam van die Here en belowe: “So seker as die Here leef, jy sal niks oorkom as jy dit doen nie.”

11. Uiteindelik het sy ingewillig: “Wie se gees moet ek vir jou oproep?”“Roep Samuel vir my op,” antwoord Saul.

12. Toe die vrou Samuel sien, skreeu sy hard: “U het my mislei! U is dan Saul!”

13. “Moenie bang wees nie!” sê hy vir haar. “Wat sien jy?”“Ek sien ’n gees wat uit die onderwêreld opkom,” sê sy.

14. “Hoe lyk hy?” vra Saul.“Dis ’n ou man met ’n mantel aan,” antwoord sy. Saul het besef dis Samuel, en hy het in eerbied voor hom op die grond neergeval.

15. “Hoekom pla jy my deur my op te roep?” vra Samuel.“Ek is baie beangs,” antwoord Saul. “Die Filistyne maak oorlog teen my en God het my ook verlaat. Hy antwoord my nie meer deur óf profete óf drome nie. Daarom het ek u laat oproep om vir my te sê wat ek moet doen.”

16. Maar Samuel antwoord hom: “Waarom vra jy my dan as die Here jou verlaat het en jou vyand geword het?

17. Die Here het gedoen net soos Hy deur my gesê het Hy sou doen. Hy het die koningskap van jou weggeneem en dit vir iemand anders, vir Dawid, gegee.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 28