Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 2:13-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Die gebruik van die priesters was dat wanneer iemand ’n offer bring, die dienaar van die priesters met ’n drietandvurk kom sodra die vleis kook

14. en dit in die pot of bak steek. Alles wat aan die vurk vassit, het die priesters dan vir hulle geneem. Dit was die gebruik vir al die Israeliete wat na Silo toe gekom het om te offer.

15. Maar die dienaar van Eli se seuns het gekom nog voordat die vet gebrand is, en het vir die man wat offer, gesê: “Gee vir die priester vleis om te braai! Hy sal nie gekookte vleis aanvaar nie, net rou vleis.”

16. As die een wat offer dan sê: “Vat soveel as wat jy wil hê, maar die vet moet eers gebrand word,” het die dienaar geantwoord: “Nee, gee dit nou vir my, anders vat ek dit met geweld.”

17. Die sondes van hierdie jong manne was vir die Here baie ernstig, want daarmee het hulle die offer van die Here met minagting behandel.

18. Samuel het egter die Here gedien. Hoewel hy nog maar ’n kind was, het hy ’n priesterlike linneskouerkleed gedra.

19. Elke jaar het sy ma vir hom ’n manteltjie gemaak en dit saamgebring wanneer sy saam met haar man gekom het om te offer.

20. Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën en gesê: “Mag die Here jou uit hierdie vrou nog kinders gee in die plek van hierdie een wat sy van die Here afgesmeek het.” Daarna het hulle huis toe gegaan.

21. Die Here het Hom oor Hanna ontferm. Sy het weer swanger geword en nog drie seuns en twee dogters in die wêreld gebring. Intussen het Samuel voor die Here grootgeword.

22. Eli was al bejaard, maar hy het geweet wat sy seuns besig was om aan die Israeliete te doen. So het hy geweet dat sy seuns die jong vroue by die ingang van die tent van ontmoeting seksueel misbruik.

23. Dan sê Eli vir hulle: “Die mense kom kla by my oor julle bose dade! Hoekom doen julle sulke dinge?

24. My seuns, julle moet ophou daarmee! Wat ek van die mense hoor, is nie goed nie. Julle maak dat die mense teen die Here oortree.

25. Wanneer iemand teen ’n medemens sondig, kan God oordeel. Maar as iemand teen die Here sondig, wie sal dan vir hom intree?” Maar Eli se seuns wou nie na hulle pa luister nie, want die Here het alreeds besluit dat hulle moet sterf.

26. Soos die jong Samuel groter geword het, het hy ook al meer die guns van die Here en die mense gewen.

27. Op ’n dag kom ’n man van God by Eli met die volgende boodskap van die Here: “Ek het Myself duidelik aan jou voorouers bekendgemaak toe die Israeliete in Egipte slawe van die farao was.

28. Ek het jou vader Aäron uit al sy bloedverwante gekies om offers op my altaar te offer, om wierook te brand en om die priesterlike skouerkleed te dra wanneer hy My dien. Ek het die vuuroffers van die Israeliete aan jou familie gegee.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 2