Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 17:41-56 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

41. Die Filistyn het na Dawid toe uitgekom, met sy skilddraer voor hom.

42. Toe hy hom sien, het hy hierdie jong rooierige en aantreklike seun geminag.

43. Hy skreeu vir hom: “Is ek ’n hond dat jy met ’n stok na my toe kom?” Toe vervloek hy Dawid in die naam van die Filistyne se gode.

44. “Kom nader sodat ek jou vleis vir die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee!” skree hy.

45. Maar Dawid skree terug: “Jy kom na my toe met ’n swaard en ’n spies en ’n swaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die Here, die Almagtige, die God van die magte van Israel wat jy staan en beledig.

46. Vandag gee die Here jou oor in my mag. Ek sal jou doodmaak, jou kop afkap, en die lyke van die Filistynse leër vir die roofvoëls van die hemel en die wilde diere van die aarde gee.

47. Die hele wêreld sal weet dat Israel ’n God het. Almal sal weet dat die Here nie swaard en spies nodig het om sy mense te red nie. Die oorlog is die Here s’n, en Hy sal julle in ons mag oorgee!”

48. Die Filistyn het al nader gekom, maar Dawid het hom vinnig tegemoetgegaan.

49. Hy steek sy hand in sy slingersak, vat ’n klip daaruit, gooi dit met sy slingervel en tref die voorkop van die Filistyn. Die klip het in sy kop ingedring en hy het met sy gesig vooroor op die grond geval.

50. So het Dawid met sy slinger en ’n klip die Filistyn oorwin. Hy het hom getref en doodgemaak sonder dat daar ’n swaard in Dawid se hande was.

51. Toe hardloop Dawid, trek die Filistyn se swaard uit die skede en kap sy kop daarmee af.Toe die Filistyne sien dat hulle baasvegter dood is, het hulle gevlug.

52. Die manskappe van Israel en Juda het opgespring en met ’n geskree die Filistyne agternagesit tot by die ingang na Gat en die poorte van Ekron. Die gesneuweldes van die Filistyne het gestrooi gelê langs die pad vanaf Saärim na Gat toe en tot by Ekron.

53. Daarna het die Israeliete omgedraai van die agtervolging en die kamp van die Filistyne geplunder.

54. Dawid het die kop van die Filistyn gevat en dit na Jerusalem toe gebring, maar sy wapens in sy eie tent gaan neersit.

55. Toe Saul Dawid sien uittrek om die Filistyn aan te durf, vra hy vir Abner, die hoof van die leër: “Wie se seun is hierdie jong man, Abner?” Abner antwoord: “Ek weet regtig nie, Koning!”

56. “Dan moet jy uitvind wie die jong man is,” beveel Saul.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 17