Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 15:4-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Saul het toe sy soldate by Telaim bymekaargeroep. Daar was 200 000 manskappe behalwe die 10 000 uit Juda.

5. Saul gaan toe na die stad van Amalek en stel ’n hinderlaag by die spruit.

6. Hy stuur ook ’n boodskap aan die Keniete: “Gee pad tussen die Amalekiete, anders sal julle saam met hulle omkom. Julle was Israel immers goedgesind toe hulle uit Egipte opgetrek het.” Die Keniete het toe padgegee.

7. Saul het daarna die Amalekiete verslaan van Gawila af tot by Sur, oos van Egipte.

8. Hy het Agag, die koning van Amalek, gevange geneem, maar al die ander mense en diere totaal uitgewis.

9. Saul en sy manskappe het Agag se lewe gespaar, asook die beste skape en beeste, die vet kalwers en lammers – trouens, alles wat hulle begeer het. Hulle het net dit wat waardeloos was, vernietig.

10. Die Here sê toe vir Samuel:

11. “Ek is spyt daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy was ontrou aan My en ongehoorsaam aan my opdragte.” Samuel was baie ontsteld hieroor en het die hele nag lank by die Here gepleit.

12. Vroeg die volgende môre het Samuel vir Saul gaan soek. Iemand sê vir hom: “Saul is Karmel toe om ’n gedenkteken vir homself op te rig. Hy het toe omgedraai en Gilgal toe gegaan.”

13. Toe Samuel hom uiteindelik kry, het Saul hom vriendelik gegroet en gesê: “Mag die Here u seën! Ek het die Here se opdrag uitgevoer!”

14. “Hoekom hoor ek dan die geblêr van skape en die gebulk van beeste?” vra Samuel.

15. “Die soldate het van die diere gespaar,” antwoord Saul. “Hulle het die beste van die skape en die beeste van Amalek saamgebring om vir die Here u God te offer. Al die ander het ons vernietig.”

16. Daarop sê Samuel vir Saul: “Wag ’n bietjie, laat ek jou vertel wat die Here laas nag vir my gesê het!”“Wat was dit?” vra Saul.

17. Samuel sê vir hom: “Voorheen het jy min van jouself gedink, tog het jy die leier van die stamme van Israel geword. Die Here het jou tot koning van Israel gesalf.

18. Die Here het jou met hierdie opdrag gestuur en gesê: ‘Jy moet die sondaars, die Amalekiete, gaan vernietig en hulle almal totaal uitwis.’

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 15