Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:30-47 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

30. As die manskappe toegelaat is om van die kos te eet wat die vyand agtergelaat het, sou ons baie meer van hulle doodgemaak het!”

31. Hulle het die Filistyne die hele dag agtervolg en doodgemaak, van Mikmas af tot by Ajalon. Maar die manskappe het baie moeg geword.

32. Teen die aand het hulle op die buit toegeslaan en skape, beeste en kalwers geslag en dit geëet sonder dat hulle eers die bloed laat uitloop het.

33. Iemand sê toe vir Saul: “Kyk, die manskappe sondig teen die Here deur vleis te eet wat nog bloederig is.”“Dit is baie verkeerd,” sê Saul. “Kry ’n groot klip en rol dit tot hier.

34. Gaan sê dan vir die manskappe: ‘Bring elkeen sy slagding hierheen, grootvee of kleinvee, en slag hulle hier sodat die bloed kan uitloop. Moenie teen die Here sondig deur die vleis te eet terwyl die bloed nog daarin is nie.’” Toe het die manskappe die diere gebring en daar geslag.

35. Saul het daar ’n altaar vir die Here gebou. Dit was die eerste keer dat hy dit gedoen het.

36. Daarna sê Saul: “Laat ons die Filistyne die hele nag deur agtervolg en plunder, en elkeen van hulle van kant maak.”Sy manskappe antwoord hom: “Ons sal doen soos wat u goeddink.”Maar die priester sê: “Laat ons eers vir God vra.”

37. Saul vra toe vir God: “Moet ons die Filistyne agtervolg? Sal U ons help om hulle te verslaan?” Maar God het nie geantwoord nie.

38. Toe sê Saul vir die leiers: “Iets is verkeerd! Al die bevelvoerders moet hierheen kom. Ons moet vasstel watter sonde vandag gepleeg is.

39. Ek lê ’n eed af by die Naam van die Here wat Israel bevry het dat die skuldige sekerlik sal sterf, selfs as dit my eie seun Jonatan is!” Niemand het egter ’n woord geantwoord nie.

40. Toe sê Saul vir al die Israeliete: “Ek en Jonatan sal hier eenkant staan, en julle daar anderkant.” Die bevelvoerders het ingestem.

41. Saul het gebid: “O Here, God van Israel, gee tog duidelikheid.” Jonatan en Saul is deur die lot aangewys, maar die manskappe was onskuldig.

42. Saul sê toe: “Laat daar nou tussen my en my seun Jonatan geloot word.” Jonatan is aangewys.

43. “Sê my wat het jy gedoen?” vra Saul vir Jonatan.“Ek het ’n bietjie heuning wat aan die punt van my stok was, geproe,” antwoord Jonatan. “Hier is ek! Ek is bereid om te sterf.”

44. Saul sê vir hom: “Jy moet sekerlik sterf, Jonatan! Mag God met my afreken as jy nie doodgemaak word nie.”

45. Maar die manskappe het tussen-beide gekom en vir Saul gesê: “Moet Jonatan, die een wat Israel vandag verlos het, sterf? Dit mag nie gebeur nie! So waar as die Here leef, geen haar aan sy kop sal aangeraak word nie. God het hom gebruik om vandag hierdie groot verlossing te bewerk.” Op dié manier het die manskappe vir Jonatan in die bres getree sodat hy nie doodgemaak is nie.

46. Saul het daarop die agtervolging van die Filistyne gestaak en die Filistyne het teruggegaan huis toe.

47. Nadat Saul homself as koning gevestig het, het hy teen sy vyande aan alle kante geveg. Dit was Moab, Ammon, Edom, die konings van Soba en die Filistyne. Hy was oral suksesvol.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14