Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:22-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Toe die Israelitiese vegters wat in die heuwels weggekruip het, sien die Filistyne vlug, het hulle ook die vyand agtervolg.

23. So het die Here Israel daardie dag gered. Die agtervolging het voortgegaan tot anderkant Bet-Awen.

24. Op dié dag is die manskappe van Israel totaal ooreis. Saul het op almal ’n eed gelê en gesê: “Vervloek is elkeen wat voor vanaand iets eet. Ek wil my op my vyande wreek.” Gevolglik het niemand daardie dag iets geëet nie.

25. Hulle het ’n bos binnegegaan waar daar baie heuning was.

26. Toe die manne in die bos kom, het dit gedrup van heuning, maar niemand het sy mond daaraan gesit nie weens die eed wat hulle opgelê is.

27. Maar Jonatan was nie bewus daarvan dat sy pa ’n eed afgelê het nie. Hy steek toe die punt van sy stok in die heuning en eet daarvan. Daarna het hy sterker gevoel.

28. Een van die manskappe het gesien wat hy doen en sê: “Jou pa het die manskappe ’n streng eed laat aflê dat elkeen wat vandag iets eet, vervloek sal wees. Dis hoekom almal moeg en flou voel.”

29. “My pa het dit vir die hele land moeilik gemaak!” sê Jonatan. “So ’n bevel skep net probleme vir ons almal. Ek het nou sommer baie meer energie noudat ek hierdie bietjie heuning geëet het!

30. As die manskappe toegelaat is om van die kos te eet wat die vyand agtergelaat het, sou ons baie meer van hulle doodgemaak het!”

31. Hulle het die Filistyne die hele dag agtervolg en doodgemaak, van Mikmas af tot by Ajalon. Maar die manskappe het baie moeg geword.

32. Teen die aand het hulle op die buit toegeslaan en skape, beeste en kalwers geslag en dit geëet sonder dat hulle eers die bloed laat uitloop het.

33. Iemand sê toe vir Saul: “Kyk, die manskappe sondig teen die Here deur vleis te eet wat nog bloederig is.”“Dit is baie verkeerd,” sê Saul. “Kry ’n groot klip en rol dit tot hier.

34. Gaan sê dan vir die manskappe: ‘Bring elkeen sy slagding hierheen, grootvee of kleinvee, en slag hulle hier sodat die bloed kan uitloop. Moenie teen die Here sondig deur die vleis te eet terwyl die bloed nog daarin is nie.’” Toe het die manskappe die diere gebring en daar geslag.

35. Saul het daar ’n altaar vir die Here gebou. Dit was die eerste keer dat hy dit gedoen het.

36. Daarna sê Saul: “Laat ons die Filistyne die hele nag deur agtervolg en plunder, en elkeen van hulle van kant maak.”Sy manskappe antwoord hom: “Ons sal doen soos wat u goeddink.”Maar die priester sê: “Laat ons eers vir God vra.”

37. Saul vra toe vir God: “Moet ons die Filistyne agtervolg? Sal U ons help om hulle te verslaan?” Maar God het nie geantwoord nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14