Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:10-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Maar as hulle sê: ‘Kom op hierheen,’ dan gaan ons op na hulle toe. Dit sal die teken wees dat die Here hulle aan ons oorgegee het.”

11. Toe die Filistyne hulle sien aankom, roep hulle: “Kyk! Die Hebreërs kom uit die gate waar hulle weggekruip het!”

12. Toe roep hulle na Jonatan: “Kom op hierheen sodat ons vir julle ’n les kan leer!”Jonatan sê vir sy wapendraer: “Kom, klim net agter my aan, want die Here gee hulle oor in ons mag!”

13. Hulle klim toe hande-viervoet boontoe. Die Filistyne het voor Jonatan geval en sy wapendraer het hulle agter hom doodgemaak.

14. In hierdie eerste geveg het Jonatan en sy wapendraer omtrent twintig man op ’n klein stukkie grond doodgemaak.

15. Daar het paniek onder die Filistyne ontstaan, onder dié wat in die kamp was en dié in die veld. Selfs die buiteposte en die roofbendes was vreesbevange. Daar was ook ’n groot aardbewing sodat almal nog banger geword het.

16. Saul se wagte by Gibea in Benjamin het gesien dat die Filistynse magte in alle rigtings uitmekaarspat.

17. “Maak seker wie van ons mense is nie hier nie,” beveel Saul. Hulle stel toe vas dat Jonatan en sy wapendraer nie daar was nie.

18. Daarop sê Saul vir Agija: “Bring die skouerkleed hier!” Destyds het Agija die skouerkleed in Israel gedra.

19. Terwyl Saul nog met die priester praat, het die geraas in die Filistynse kamp al harder geword. Daarom sê Saul vir Agija: “Laat staan maar!”

20. Saul en sy 600 man het hulle na die gevegsfront gehaas. Die Filistyne was besig om mekaar dood te maak en daar was groot verwarring.

21. Selfs die Hebreërs wat voorheen die Filistyne gesteun het, het oorgeloop na die Israeliete wat by Saul en Jonatan was.

22. Toe die Israelitiese vegters wat in die heuwels weggekruip het, sien die Filistyne vlug, het hulle ook die vyand agtervolg.

23. So het die Here Israel daardie dag gered. Die agtervolging het voortgegaan tot anderkant Bet-Awen.

24. Op dié dag is die manskappe van Israel totaal ooreis. Saul het op almal ’n eed gelê en gesê: “Vervloek is elkeen wat voor vanaand iets eet. Ek wil my op my vyande wreek.” Gevolglik het niemand daardie dag iets geëet nie.

25. Hulle het ’n bos binnegegaan waar daar baie heuning was.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14