Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 21:4-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Maar die koning het daarop aangedring dat Joab die sensus opneem. Daarom het Joab deur die hele Israel getrek om die volk te tel. Toe is hy terug Jerusalem toe.

5. Joab het die getal mense aan Dawid kom rapporteer. Daar was 1 100 000 mense wat militêre diens kon lewer in Israel, en 470 000 in Juda.

6. Joab het nie die stamme van Levi en Benjamin getel nie omdat die opdrag van die koning vir hom afskuwelik was.

7. God was baie ontevrede met die sensus, en Hy het Israel daarvoor gestraf.

8. Toe sê Dawid vir God: “Ek het baie teen U gesondig en moes nie die sensus opgeneem het nie. Vergewe my asseblief omdat ek hierdie dwase ding gedoen het!”

9. Die Here het met Gad, Dawid se siener, gepraat. Dit was die boodskap:

10. “Gaan sê vir Dawid: ‘Dit is wat die Here sê: Ek gaan jou drie keuses gee. Kies een van hierdie strawwe, en Ek sal dit doen.’”

11. Gad het by Dawid gekom en vir hom gesê: “Hierdie is die keuses wat die Here u gegee het.

12. U kan drie jaar van hongersnood kies, drie maande van verwoesting deur u vyande of drie dae van ’n swaar plaag waar die engel van die Here deur die hele land vernietiging bring. Dink hieroor na en laat my weet watter antwoord ek vir die Here moet gee.”

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 21