Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 19:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. ’n Ruk later het koning Nagas van die Ammoniete gesterf, en sy seun Ganun het in sy plek koning geword.

2. Dawid het gesê: “Ek gaan Ganun goed behandel omdat sy pa, Nagas, my altyd goed behandel het.” Dawid het ambassadeurs gestuur om simpatie met Ganun te betoon oor sy pa se dood. Maar toe Dawid se ambassadeurs in die land van Ammon aankom,

3. het Ganun se adviseurs vir hom gesê: “Dink u regtig hierdie manne het gekom om u oor u pa te eer? Nee! Dawid het hulle gestuur om op die land te spioeneer sodat hy kan kom en dit verower!”

4. Ganun het toe Dawid se ambassadeurs gevange geneem en hulle baarde afgeskeer, hulle klere in die helfte by hulle heupe afgesny, en hulle in skaamte na Dawid toe teruggestuur.

5. Toe Dawid hoor wat gebeur het, het hy boodskappers gestuur om vir die manne te sê: “Bly in Jerigo totdat julle baarde uitgegroei het en kom dan eers terug.” Die ambassadeurs was verneder.

6. Die Ammoniete het besef dat hulle Dawid kwaad gemaak het. Ganun en die Ammoniete het toe 34 ton silwer gestuur om vir hulle strydwaens en perderuiters uit Aram-Nagarajim, Aram-Maäka en Soba te huur.

7. Hulle het ook 32 000 waens gehuur, asook die koning van Maäka met sy leër. Hierdie magte het by Medeba uitgekamp waar die Ammoniete wat Ganun uit sy eie stede opgeroep het, by hulle aangesluit het.

8. Toe Dawid dit hoor, het hy Joab en al sy soldate gestuur om teen hulle te veg.

9. Die Ammoniete se soldate het hulle in slagorde opgestel by die poort van die stad terwyl die ander konings hulleself in die oop veld opgestel het vir die geveg.

10. Joab het gesien dat hy aan twee kante sal moet veg. Toe kies hy die beste soldate in sy leër en laat hulle onder hom veg. Hy het hulle uitgelei om teen die Arameërs in die oop veld te gaan veg.

11. Die res van die leër het hy onder die bevel van sy broer Abisai gesit, en hulle moes die Ammoniete aanval.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 19