Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 6:23-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. In die binneste heiligdom het Salomo twee gerubs van olyfhout gesit. Elkeen was vyf meter hoog.

24. Elke vlerk was twee en ’n half meter lank en die vlerkspan van elke gerub was vyf meter van punt tot punt.

25. Die twee gerubs was identies in vorm en grootte,

26. elkeen vyf meter hoog.

27. Salomo het hulle langs mekaar in die binneste heiligdom van die tempel gesit. Hulle uitgespreide vlerke het van muur tot muur gestrek: die vlerk van die een het teen die muur geraak, terwyl die vlerk van die ander teen die ander muur geraak het. In die middel van die vertrek het hulle vlerke aan mekaar geraak.

28. Hy het die twee gerubs met goud oorgetrek.

29. Rondom teen al die mure van die binneste heiligdom en die hoofvertrek het hy uitgesnyde gerubs, palmbome en blomme laat aanbring.

30. Hy het ook die vloere van albei die vertrekke met goud oorgetrek.

31. Salomo het dubbeldeure van olyfhout by die ingang van die binneste heiligdom gemaak. Hulle kosyne was vyfkantig.

32. Op hierdie deure van olyfhout het hy gerubs en palmbome uitgekerf en met goud oorgetrek.

33. Daarna het hy kosyne van olyfhout gemaak vir die ingang van die tempel. Hulle was vierkantig.

34. Dié dubbeldeure was van sipreshout. Op elke deur was sirkels uitgesny.

35. Hierdie deure is verder versier met gerubs, palmbome en blomme wat daarop uitgekerf was. Alles is met goud oorgetrek.

36. Hy het die binneste hof met drie lae gekapte klip en een laag sederhoutbalke gebou.

37. Die fondamente van die Here se tempel is in die middel van die lente van die vierde regeringsjaar van Salomo gelê.

38. In die middel van die herfs, tydens sy elfde regeringsjaar, is die hele gebou tot in die fynste besonderhede en volgens die planne voltooi. Dit het dus sewe jaar geneem om die tempel te bou.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 6