Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 6:19-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Salomo het die binneste heiligdom agter in die tempel ingerig as die plek waar die ark van die Here gesit kon word.

20. Die afmetings van die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog. Die mure en plafon en ook die altaar met sederhout is met suiwer goud oorgetrek.

21. Daarna het hy die res van die tempel aan die binnekant met suiwer goud bedek. Hy het ook goue kettings gespan voor die ingang na die binneste heiligdom, wat ook met goud bedek was.

22. Hy het die hele tempel, asook die altaar in die binneste heiligdom met goud bedek.

23. In die binneste heiligdom het Salomo twee gerubs van olyfhout gesit. Elkeen was vyf meter hoog.

24. Elke vlerk was twee en ’n half meter lank en die vlerkspan van elke gerub was vyf meter van punt tot punt.

25. Die twee gerubs was identies in vorm en grootte,

26. elkeen vyf meter hoog.

27. Salomo het hulle langs mekaar in die binneste heiligdom van die tempel gesit. Hulle uitgespreide vlerke het van muur tot muur gestrek: die vlerk van die een het teen die muur geraak, terwyl die vlerk van die ander teen die ander muur geraak het. In die middel van die vertrek het hulle vlerke aan mekaar geraak.

28. Hy het die twee gerubs met goud oorgetrek.

29. Rondom teen al die mure van die binneste heiligdom en die hoofvertrek het hy uitgesnyde gerubs, palmbome en blomme laat aanbring.

30. Hy het ook die vloere van albei die vertrekke met goud oorgetrek.

31. Salomo het dubbeldeure van olyfhout by die ingang van die binneste heiligdom gemaak. Hulle kosyne was vyfkantig.

32. Op hierdie deure van olyfhout het hy gerubs en palmbome uitgekerf en met goud oorgetrek.

33. Daarna het hy kosyne van olyfhout gemaak vir die ingang van die tempel. Hulle was vierkantig.

34. Dié dubbeldeure was van sipreshout. Op elke deur was sirkels uitgesny.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 6