Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 5:7-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Toe Hiram hierdie boodskap van Salomo kry, was hy baie in sy skik en het gesê: “Loof die Here wat vir Dawid ’n wyse seun gegee het om koning te wees van die groot volk Israel.”

8. Hy het die volgende antwoord aan Salomo gestuur: “Ek het u versoek ontvang en sal u voorsien van sowel sederhout as sipreshout soos u versoek het.

9. My arbeiders sal die stompe van die Libanonberge na die see toe bring en dit in vlotte aanmekaarbind. Ons sal hulle dan al seelangs laat dryf tot by die plek wat u verkies. Ons sal daar die vlotte opbreek en die hout aan u oorhandig. U kan my dan betaal deur my met die kos te voorsien wat ek vir my huishouding nodig het.”

10. Op dié manier het Hiram vir Salomo soveel seder- en sipreshout verskaf soos wat hy nodig gehad het.

11. Salomo het jaarliks vir Hiram se hofhouding 3 300 ton koring en 4 400 liter suiwer olyfolie voorsien.

12. Die Here het aan Salomo wysheid gegee soos Hy belowe het. Daar was ’n goeie verhouding tussen Hiram en Salomo. Hulle het ook ’n vredesverdrag gesluit.

13. Koning Salomo het dwangarbeid in Israel ingestel. Daar was altesaam 30 000 dwangarbeiders.

14. Hy het hulle in skofte na die Libanon toe gestuur. Groepe van 10 000 het om die beurt vir ’n maand daar gewerk en dan vir twee maande huis toe gekom. Adoniram was in beheer van die dwangarbeid.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 5