Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:38-48 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

38. Hulle het die strydwa by die dam van Samaria afgespoel, waar die prostitute hulleself altyd was. Die honde het gekom en die koning se bloed opgelek net soos die Here gesê het.

39. Die ander gebeurtenisse tydens Agab se regering, die vertellings oor die ivoorpaleis en die stede wat hy gebou het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

40. Agab is dood en sy seun Ahasia het hom opgevolg.

41. Josafat seun van Asa het in die vierde regeringsjaar van koning Agab in Israel koning van Juda geword.

42. Hy was 35 jaar oud toe hy koning geword het en hy het 25 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Asuba, die dogter van Silgi.

43. Josafat het in die voetspore van sy pa Asa gevolg. Hy het nie daarvan afgewyk nie en gedoen wat vir die Here reg was.

44. Die heidense hoogtes is egter nie verwyder nie sodat die volk nog steeds daar geoffer en wierook gebrand het.

45. Josafat het in vrede met die koning van Israel geleef.

46. Die ander gebeurtenisse tydens Josafat se regering, sy dapper dade en die oorloë wat hy gevoer het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.

47. Hy het die tempelprostitute wat uit die dae van sy pa, Asa, oorgebly het, uit die land verban.

48. In daardie tyd was daar geen koning in Edom nie; ’n plaasvervangende persoon het as koning opgetree.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22