Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 21:20-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. “So! Het my vyand my toe gekry?” vra Agab vir Elia.“Ja,” antwoord Elia. “Ek het jou gekry omdat jy jouself uitverkoop het om te doen wat vir die Here boos is.

21. Die Here sê: ‘Ek gaan ’n ramp oor jou bring en jou nageslag uitwis. Nie een van jou manlike afstammelinge in Israel, wie dit ook al is, sal dit oorleef nie!

22. “‘Omdat jy My getart en Israel laat sondig het, gaan Ek jou koningshuis uitroei soos Ek met Jerobeam seun van Nebat, en die koningshuis van Baesa seun van Agija gedoen het.’

23. “Oor Isebel het die Here gesê: ‘Die honde sal Isebel by die stadsmuur van Jisreël opvreet.’

24. En wat die res van jou familie betref: ‘Hulle wat in die stad sterf – die honde sal hulle opvreet; hulle wat in die veld sterf – die roofvoëls sal hulle verslind.’”

25. Daar was nie nog iemand wat soveel boosheid voor die Here bedryf het soos Agab waartoe sy vrou Isebel hom aangehits het nie.

26. Hy het afskuwelik opgetree deurdat hy afgodsbeelde aanbid het net soos die Amoriete wat die Here ter wille van die Israeliete uit die land gedryf het.

27. Toe Agab hierdie boodskap hoor, het hy sy klere geskeur, rouklere aangetrek en gevas. Hy het selfs in ’n roukleed geslaap en neerslagtig rondgeloop.

28. Die Here het weer ’n boodskap vir Elia die Tisbiet gegee:

29. “Het jy opgelet dat Agab homself voor My verootmoedig het? Omdat hy dit gedoen het, sal Ek die ramp nie gedurende sy lewe laat gebeur nie. Ek sal eers tydens die regering van sy seun die ramp oor sy familie bring.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 21