Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:29-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

29. Die twee leërs het sewe dae lank so teenoor mekaar opgestel gestaan. Op die sewende dag het die geveg uitgebreek. Die Israeliete het 100 000 Aramese voetsoldate op een dag doodgemaak.

30. Die res het na die stad Afek gevlug. Toe val die muur om op 27 000 man. Ben-Hadad het die stad in gevlug en van huis tot huis weggekruip.

31. Ben-Hadad se offisiere sê toe vir hom: “Ons het gehoor die konings van Israel is baie genadig. Kom ons trek rouklere aan en maak toue om ons koppe vas. Dan gee ons ons oor aan die koning van Israel. Miskien sal hy u lewe spaar.”

32. Hulle trek toe rouklere aan en sit toue om hulle koppe. So het hulle na die koning van Israel gegaan en hom gesmeek: “U dienaar Ben-Hadad sê: ‘Laat my asseblief lewe!’”Die koning van Israel antwoord: “Lewe hy nog? Hy is my broer!”

33. Die boodskappers het gou na hierdie strooihalm van hoop gegryp, en geantwoord: “Ja, Ben-Hadad ís u broer!”“Gaan haal hom dan,” sê die koning van Israel. Toe Ben-Hadad daar kom, het Agab hom genooi om op sy strydwa te klim.

34. Ben-Hadad sê vir hom: “Ek sal al die dorpe wat my pa van jou pa afgevat het, teruggee. Jy kan ook ’n handelsbuurt in Damaskus inrig soos my pa in Samaria gedoen het.”Agab sê toe: “As jy ’n ooreenkoms met my sluit, sal ek jou vrylaat.” Hulle het toe ’n ooreenkoms aangegaan en hy het Ben-Hadad laat gaan.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20