Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:16-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Nou vra ek net een guns van u. Moet dit asseblief nie weier nie.”“Wat is dit?” vra sy.

17. Hy antwoord: “Praat asseblief met koning Salomo, want ek weet hy sal enigiets doen wat u vra. Vra hom om Abisag, die meisie uit Sunem, vir my as vrou te gee.”

18. “Goed,” sê Batseba. “Ek sal vir jou voorspraak doen by die koning.”

19. Batseba gaan toe na koning Salomo om Adonia se versoek te stel. Die koning het opgestaan om haar te ontmoet en het voor haar gebuig. Hy het weer op sy troon gaan sit en beveel dat daar ’n troon aan sy regterkant vir sy ma neergesit word.

20. “Ek wil een klein gunsie van jou vra,” sê sy. “Ek hoop jy sal my nie weier nie.”“Wat is dit, Ma?” vra hy. “U weet ek sal u niks weier nie.”

21. “Laat dan toe dat jou broer Adonia met Abisag, die meisie uit Sunem, trou,” antwoord sy.

22. “Hoe kan u hoegenaamd vra dat ek Abisag vir Adonia gee?” roep Salomo uit. “U kan netsowel vra dat ek die hele koninkryk vir hom moet gee! U weet dat hy my ouer broer is en dat hy Abjatar die priester en Joab seun van Seruja aan sy kant het.”

23. Toe lê koning Salomo ’n eed af voor die Here: “Mag God my straf as ek Adonia nie oor hierdie versoek teregstel nie.

24. So seker as die Here leef, Hy wat my stewig op die troon van my pa, Dawid, gevestig het en vir my ’n koningshuis geskep het soos Hy beloof het – net so seker moet Adonia vandag nog tereggestel word!”

25. Koning Salomo stuur toe vir Benaja seun van Jojada na Adonia toe en hy het hom doodgemaak.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2