Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 19:11-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. “Kom buitekant toe en gaan staan voor My by die berg,” sê die Here vir hom. Terwyl Elia daar staan, het die Here by hom verbygegaan en ’n geweldige rukwind het die berg uitmekaargeruk en die rotse gebreek voor die Here. Tog was die Here nie in die wind nie. Na die wind was daar ’n aardbewing, maar die Here was nie in die aardbewing nie.

12. Na die aardbewing was daar ’n vuur, maar die Here was nie in die vuur nie. Na die vuur was daar die geluid van ’n sagte gesuis.

13. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak. Hy het by die ingang van die grot gaan staan.’n Stem het gesê: “Wat maak jy hier, Elia?”

14. Hy het weer geantwoord: “Ek het U met toewyding gedien, Here God Almagtig. Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en al u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak.”

15. Toe sê die Here vir hom: “Draai net hier om en gaan na die woestyn van Damaskus. Wanneer jy daar aankom, moet jy Gasael salf tot koning van Aram.

16. Dan moet jy Jehu seun van Nimsi salf tot koning oor Israel. Jy moet ook Elisa seun van Safat uit Abel-Megola salf om jou as my profeet op te volg.

17. Dan sal sake só verloop: Die een wat Gasael se swaard ontvlug, sal Jehu doodmaak; en die een wat Jehu se swaard ontvlug, sal Elisa doodmaak.

18. Nogtans sal Ek die 7 000 in Israel laat oorbly wat nie voor Baäl gebuig en hom vereer het nie.”

19. Elia het van daar af vertrek en Elisa seun van Safat teëgekom waar hy besig was om met twaalf spanne van twee osse elk ’n landery om te ploeg. Hy was besig om met die twaalfde span te ploeg. Elia het na hom toe geloop en sy mantel oor sy skouers gegooi.

20. Elisa het die osse net daar laat staan en agter Elia aangehardloop. Hy sê vir hom: “Laat ek tog net my pa en ma groet, dan sal ek saam met u gaan.”Elia antwoord hom: “Gaan maar! Ek staan nie in jou pad nie!”

21. Elisa het toe teruggegaan en twee osse geslag. Hy het die jukke opgekap vir brandhout en die vleis gebraai. Hy het die vleis gegee aan die ander wat saam met hom geploeg het en hulle het geëet. Daarna het hy saam met Elia gegaan en sy volgeling geword.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 19